Maklike style vir jou korter hare

Dit is weer hoogmode om jou hare korter te sny, of dit nou op jou skouers hang, ʼn bob-styl is of sommer heeltemal af in ʼn pixie-styl, kort hare is in!

Aangesien jy nie altyd net jou korter hare in ʼn bolla of bokstert kan vasmaak, soos wat jy met langer hare kan doen nie, verg dit soms ekstra moeite met stilering.

Probeer gerus dié vyf maklike haarstyle vir korter hare:

Gemaklike vlegsel

Dée haarstyl is maklik en geskik vir enige hare (Foto: Pinterest)

Die haarstyl is gepas vir amper enige tekstuur hare. Dit maak ook nie saak of jou hare onder jou skouers hang of in jou nek afgeknip is nie; as jy langer hare teen jou gesig het, kan jy hierdie styl kies.

Maak ʼn gewone vlegsel met die hare aan weerskante van jou gesig en bring hulle agter jou kop bymekaar met ʼn klein rekkie. Trek die dele van die vlegsel effens uit om tekstuur te skep en jou vlegsel dikker te laat lyk. Gebruik knippies om dit in plek te hou.

Reguit agter die ore

Lyk moeiteloos elegant met dié klassieke styl (Foto: Pinterest)

Reguit hare wat in ʼn middelpaadjie is, is ʼn maklike manier om klassiek te lyk. Onthou om jou hare goed te bevogtig voordat jy ʼn haartang gebruik om jou hare ekstra reguit te maak.

Jy kan ook ʼn bietjie haarjel aanwend om seker te maak al die hare bly in hul plek. Sit jou hare agter jou ore vir ʼn moeitelose voorkoms op kantoor of ʼn spesiale geleentheid.

Kort en glad

Kort hare is weer hoog mode (Foto: Instagam)

Pixie-styl is weer hoogmode en ál meer bekendes sny hul hare kort. Vir ʼn elegante styl, gebruik bloot haarjel om jou kuif te jel na die ander kant as wat dit gewoonlik lê. Pêrelknippies is ook ʼn groot tendens, wat goed vir dié styl sal werk. Knip dit reg bo die oor aan jou hare vas om dit meer deftig te maak.

Maklike op-styl

‘n Vlegsel langs jou gesig lyk pragtig (Foto: Pinterest)

Verdeel jou hare in ʼn skuinspaadjie en gebruik die dikker deel om ʼn Franse vlegsel te maak teen jou gesig af en verby jou oor. Gebruik ʼn klein rekkie om die vlegsel in plek te hou. Knip die res van jou hare teen jou nek bymekaar en trek van die hare uit en los om tekstuur te skep.

Natuurlike tekstuur

Tekstuur laat korter hare onmiddelik beter lyk (Foto: Pinterest)

As jy sukkel met tekstuurlose hare, sal die volgende wenk handig te pas kom. Wanneer jy weet jy gaan jou hare moet stileer, moenie jou hare die dag van of die dag voor die tyd was nie. Gee sowat twee dae vir jou hare om minder glad en plat te word.

Jy kan jou hare met soutwater spuit, wat sal help om meer tekstuur te skep. Anders kan jy jou hare natmaak en twee of drie vlegsels met jou nat hare maak. Laat jou hare in die vlegsels droog word en slaap ook so deur die aand. Maak die vlegsels los die volgende dag en kam liggies vir pragtige natuurlike tekstuur!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.