ʼn Nuwe meenthuistuintjie in ʼn naweek

Deur Eugene Lottering

Baie van ons, veral die jonger garde, is nie so bevoorreg om in huise met groot, gevestigde tuine te woon nie. Tog smag elkeen na ʼn stukkie natuur waar ʼn mens smiddae ná werk ʼn kombers kan oopgooi en ʼn koppie koffie kan geniet.

As jy in ʼn meenthuis met ʼn klein tuintjie woon en jou begroting vir tuinmaak is boonop beperk, lyk hierdie droom bykans onmoontlik. Dan gooi jy maar so dan en wan die beddinkies wat jy by die vorige huurders geërf het nat en hoop daar kom die een of ander tyd iets met ʼn blommetjie iewers op.

Maar ʼn stukkie tuin van jou eie is dalk glad nie so vergesog of onbekostigbaar soos jy dink nie. As jy ʼn paar grondbeginsels volg, kan jy met redelik min moeite en uitgawes vir jou ʼn meenthuistuin skep waar jy en jou vriende kan braai of kuier, en wat boonop heeljaar mooi lyk.

Volg dié vyf wenke om binne ʼn naweek vir jou ʼn splinternuwe meenthuistuintjie vir so min soos R1 000 te vestig.

Wenk 1: Maak spasie

ʼn Klein tuintjie soos hierdie kan maklik in ʼn naweek opgeknap word. Al wat dit verg, is dat jy ʼn bietjie beplan, en bereid is om ʼn paar plantjies of steggies by vriende te bedel.

Dié tuin het eintlik baie mooi en duur plante bevat, maar dit het heeltemal handuit geruk en begin lyk soos een groot bos. Die grootte van die plante was ook nie in verhouding tot die grootte van die tuintjie nie, en dit het die tuin baie kleiner laat lyk as wat dit werklik is. As jy min plek het, gebruik kleiner plante. Skep fokuspunte wat sorg dat mense se oë op verskeie elemente in die tuintjie kan fokus. Dit skep die illusie dat daar baie tuin is, asook ruimte.

Plante is soos kinders: Hulle kort liefde en versorging en moet so nou en dan gesnoei word om die beste in hulle na vore te bring. Die eerste ding wat jy in jou tuin moet doen, is om plante wat buite verhouding met die grootte van die tuin is, te snoei.

Wenk 2: Haal uit wat onnodig is

In dié tuin het die inwoners besluit om al die tuinelemente te verwyder en van voor af te begin. Die plante wat nog bruikbaar was, is uitgehaal en eenkant gesit (buiten die boompies), sodat hulle later kon besluit wat waar herplant moet word.

Nadat die onnodige plante verwyder en die boompies teruggesnoei is tot ʼn netjiese struktuur, was dit reeds vir die inwoners moontlik om te begin sien watter patroon gevolg moet word met die res van die tuin. Laat jou lei deur die natuurlike patroon van die groot plante en bome of boompies wat nie uitgehaal is nie.

Wenk 3: Beplan die vorm van jou beddings en grasperk om die prentjie in jou kop te weerspieël

Die volgende stap is om te besluit hoe die beddings moet lyk. Met dié tuintjie het die inwoners besluit op ʼn reguit bedding sonder kronkels en draaie, juis omdat hulle meer plek vir gras in die klein erf wou hê. Nadat die beddinggrootte bepaal is, het hulle besluit om eers aandag aan die grasperk te gee.

Omdat die bestaande gras deurtrek was met bossies, is al die gras uitgehaal. Die grond is omgedolwe, en kunsmis en beenmeel is in die grond ingewerk. Die grondoppervlak is gelyk gemaak en vars, groen gras is geplant. Die dinamika van die erf is dadelik daarmee verander, en dit was moontlik om te sien hoeveel beddingspasie oor is waarmee daar tuingemaak kan word.

Wenk 4: Bedel plante by vriende en beplan jou struktuur daar rondom

Al die plante in dié tuin kom van iemand wat vir die inwoners spesiaal is. Hiermee bespaar jy nie net baie nie; dit maak ook die tuin ekstra spesiaal omdat jy altyd sal onthou wie vir jou wat gegee het. Vra mense by wie jy op jou gemak voel of hulle vir jou ʼn plant of steggie vir jou tuin sal gee. In dié geval het vriende van die inwoners almal plante gegee wat hulle in potjies gehad het, en wat in hul eie tuine nie werklik sin gemaak het nie.

Versamel die plante en beplan dan waar jy wat gaan plant. As jy nie seker is oor waar ʼn plant beter gaan groei nie, vra jou ma of die naaste kwekery vir raad, of vra sommer vir Google. Hierdie stap is baie belangrik, want net soos mense is plante maar ʼn bietjie sensitief. Te veel son, en hulle brand; te veel koelte, en hulle vrek.

Maak die tuin die dag voor jy jou plante gaan plant, deeglik nat sodat jy die volgende dag lekker in die grond kan grawe.

Wenk 5: Skep karakter in jou tuin met mooi potte en sementblokke

Moenie bang wees om blompotte, sementblokke en klippe in jou tuin te gebruik nie. ʼn Tuin is nie net vir plante nie. Dink aan die gevoel wat jy wil skep met jou tuin en werk volgens daardie tema.

In die foto kan jy sien dat daar ʼn paar verskillende elemente gebruik is. Dit is steeds eenvoudig, maar gee die tuin dadelik ʼn ander dinamika. Die sementstroke keer dat die tuinier nie jou plante raaksny nie, veral waar plante naby die rand van die bedding geplant is.

Plant plante wat in die winter en somer verskillende behoeftes gaan hê in potte. Dan kan jy dit byvoorbeeld skuif na sonhoekies indien dit gedurende die winter meer son nodig het.

En daar het jy dit – ʼn lieflike stukkie natuur voor jou voordeur, met die minimum uitgawes en ʼn klompie lekker handearbeid wat jy maklik in ʼn naweek kan inpas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.