ʼn Skoon huis is ʼn gesonde huis

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Dit is minstens een of twee keer per jaar noodsaaklik om jou huis van hoek tot kant skoon te maak en alle onnodige, oortollige en ongewensde items uit te gooi, of weg te gee.

Die verandering van die seisoen en die Covid-19-pandemie bring ook ʼn paar higiëniese faktore mee wat nie geïgnoreer behoort te word nie en sommige van dié faktore is gesondheidsverwant.

Emma Corder, besturende direkteur by Industroclean, sê dit het tydens die pandemie van nóg groter belang geraak om seker te maak jou huis word deeglik skoongemaak.

“Die pandemie het meegebring dat mense langer tydperke tuis deurbring, wat hulle tyd gegee het om ongebruikte, deurmekaar vertrekke nuwe lewe te gee. Daar is egter nog baie vergete areas in en om die huis,” sê Corder.

“Ek dink dit is veilig om te sê die pandemie het ʼn verhoogde bewustheid gebring oor die belangrikheid daarvan om jou huis higiënies skoon te hou. Die algemene kennis oor skoonmaakmiddels het beslis toegeneem. Mense behoort dié nuwe kennis toe te pas wanneer dit kom by muf en skimmel wat in die huis vorm.”

Die winterseisoen het ʼn opbou van humiditeit in huise tot gevolg gehad, wat veroorsaak word deur deure en vensters wat heeltyd toegehou word, vog van warm baddens en storte en algemene swakker sirkulasie deur die huis.

“Wanneer vogtige lug aan koeler, poreuse oppervlakke raak, sal dit opbou en moontlik muf tot gevolg hê. Dit kom gewoonlik voor in plekke wat moeilik is om skoon te maak of wat maklik gemis word en kan gevaarlike nagevolge vir die gesondheid inhou as dit nie korrek skoongemaak word nie.”

Muf kan skade aan jou besittings berokken en kan ook verskeie gesondheidskwessies, soos keelirritasies, verstopte neuse, ooginfeksies, hoes en kortasem asook velirritasies tot gevolg hê.

Muf kom grotendeels in die badkamer of kombuis voor, maar dit is ook belangrik om die huis twee keer per week te stofsuig.

“Dit kan help om van 90% van stof en stuifmeel ontslae te raak. ʼn Stofsuier met ʼn Hepa-uitlaatpyp sal ook help om die stofdeeltjies van jou diere se hare vas te vang. Onthou dat jou viervoetige kinders nou meer hare as tevore verloor.”

Dit is nou ook ʼn goeie tyd om jou matte te was, sê Corder. “Daar kan vog in jou matte vasgevang wees en deur die matte te was kan die ontwikkeling van muf en stofmyte verhoed.”

Stof ook gereeld af, maar nie net met ʼn gewone verestowwer nie aangesien dit net die stofdeeltjies verder versprei.

“ʼn Lap van mikrovesel werk op byna enige oppervlak. Dit werk ook goed vir die plekkies wat moeilik is om by te kom.”

Sy benadruk dat om die huis skoon te maak nie net die ontruiming van items behels nie. “Nou is ʼn goeie tyd om jou huis op ʼn higiëniese vlak vir die veranderende seisoen en die res van die pandemie voor te berei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.