Ontgin jou kreatiwiteit: Maak jou eie eetgerei vir Valentynsdag

Waarvoor wag jy? Spring weg en skep jou eie, unieke versameling van eetgerei. Foto: Verskaf.

Deur Cáy Momberg

Moeg vir jou wit borde, koppies of beker? Lus vir kleur, verandering en opwinding? Hier is jou kans – kry porseleinpenne in jou gunstelingkleure en raak kreatief sonder moeite.

Jy benodig:

  • 1 gekoopte porselein koffiebeker (dit hoef nie wit te wees nie – wit werk net beter)
  • Swart en rooi porseleinpenne met ʼn fyn punt (1 mm)
  • Sjabloon van jou keuse indien nodig
  • HB-potlood
  • Nat lappie
  • Standaard huisoond

So maak jy:

Foto: Verskaf.

1.Gebruik ʼn porseleinpen en ʼn geglasuurde koffiebeker, bord of bakkie van jou keuse. Gebruik enige sjabloon of teken vryhand op die beker met ʼn sagte HB-potlood. Die ontwerpmoontlikhede is eindeloos. As jy byvoorbeeld ʼn deurskynende glas gebruik, plak net jou ontwerp aan die binnekant van die glas vas en trek so jou ontwerp vinnig en maklik af op die buitekant.

2.Skoon keramiek is belangrik – was altyd eerste jou hande. Olie van jou hande kan voorkom dat die porseleinpen op jou keramiek heg. Voor jy begin, was jou keramiekvoorwerp met warm water en seep. Maak goed droog.

Foto: Verskaf.

3.Skud jou porseleinpen deeglik voor gebruik. Toets eers op ʼn servet of papier voor jy begin. Druk egalig anders maak dit groot blapse. En indien jy ʼn fout begaan het, neem eenvoudig die nat lappie en vee die voorwerp skoon voor die ink te droog is en begin oor.

Foto: Verskaf.

4.Laat jou voorwerp lê of werk met ʼn hoek – nie regopstaande nie – ink loop terug en die pen word droog.

5.Teken jou ontwerp se buitelyne altyd eerste dan vul jy in deur, byvoorbeeld, die gebruik van lyn en sirkels en kleur.

Foto: Verskaf.

Foto: Verskaf.

6.Wanneer jou ontwerp klaar is, laat staan jou keramiekvoorwerp vir 24 uur, plaas dit dan in ʼn koue kombuisoond, skakel die oond aan op 160° en laat bak jou beker, bord of koppie vir 90 min. Skakel die oond af, los jou voorwerp in die oond totdat die oond heeltemal afgekoel het voordat jy dit uithaal.

7.Hierdie tegniek kan op enige ander gekoopte geglasuurde keramiek soos blompotte, teepotte, ensovoorts toegepas word.

8.Onthou om jou voorwerp nie in die skottelgoedwasser te plaas nie. Was alleenlik met die hand.

Waarvoor wag jy? Spring weg en skep jou eie, unieke versameling!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dianne ·

Die artikel deur Ca Momberg oor jou eie eetgerei te maak met porseleinpenne is absoluut AWESOME!! Ek gaan beslis dophou vir meer sulke “by-die-huis-doen” artikels! Dankie Cà!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.