Paaseiers vir ’n adellike

(Foto: Verskaf)

Deur Cay Momberg

Baie mense skep iets moois met herhalende patrone of krabbelkuns, of jy nou kan teken of nie. Ek wou ‘n spesifieke produk maak met herhalende patroonkuns wat my herinner aan die pragtige Carl Faberge-Paaseiers.

In 1885 besluit tsaar Alexander III om ‘n versierde paaseier aan sy vrou, die keiserin Maria Feodorovna, te gee, moontlik om die 20ste herdenking van hul verlowing te vier. Daar word geglo dat die tsaar, wat die eerste keer met Fabergé se virtuose werk in 1882 op die Moskou Pan-Russiese tentoonstelling kennis gemaak het, geïnspireer is deur ‘n eier uit die 18de eeu wat in besit was van die tante van die keiserin, prinses Wilhelmine Marie van Denemarke. Die kunswerk het glo die verbeelding van die jong Maria aangegryp gedurende haar kinderjare in Denemarke.

Tsaar Alexander was blykbaar betrokke by die ontwerp en skep van die eier en het aan Fabergé voorstelle gemaak soos die projek gevorder het. Paasfees was die belangrikste geleentheid van die jaar in die Russies-Ortodokse Kerk, gelykstaande aan Kersfees in die Weste. ’n Eeue oue tradisie om eiers wat met die hand gekleur is na die kerk te bring om geseën te word en dan aan vriende en familie te gee, het deur die jare heen ontwikkel.

Dit is dus tsaar Alexander III wat die idee gehad en die opdrag aan Fabergé gegee het om ‘n kosbare paaseier te skep as ‘n verrassing vir die keiserin, en so is die eerste keiserlike paaseier gebore.

Alexander III het elke jaar ‘n eier aan sy vrou, die keiserin Maria Feodorovna, oorhandig en die tradisie word vanaf 1895 voortgesit deur sy seun Nikolaas II, wat jaarliks ‘n eier aan beide sy vrou, die keiserin Alexandra Feodorovna, en aan sy moeder, die weduwee-keiserin Marie Feodorovna, oorhandig.

Benodighede:

  • 5 x ongeglasuurde porseleineiers (bisque)
  • Potlood
  • Swart permanente pen
  • Verskillende kleure glinsterpenne
  • Goue en silwer jelpenne
  • Akrielverf – verskeie kleure
  • Verfkwaste en water
  • Ronde gordynringe van hout (om te gebruik as staander vir die eiers terwyl jy verf of op uit te stal ná die tyd)
  • Kleurlose vernis

(Foto: Verskaf)

Só maak mens:

  1. Sit al jou benodighede soos bo genoem byderhand, bedek jou werkoppervlak met koerantpapier en begin.
  2. Maak seker die paaseiers is goed skoongemaak om te verseker dat die kleur van die verf- en glinsterpen goed sal vat.
  3. Om tyd te spaar, begin deur al die eiers met ’n onderlaagkleur van jou keuse te verf. Sit die eiers eenkant neer om droog te word.
  4. Noudat die onderlaag voltooi is, kan jy eers ’n potlood neem en liggies die buitelyne van jou krabbelontwerp teken of direk met jou swart pen op elke eier begin krabbel.

    (Foto: Verskaf)

  5. Voeg krulle, vorms, punte en sirkels by. Skep kontras deur sekere dele heeltemal swart in te kleur.
  6. Nou is dit tyd om kreatief te raak. Bring nog kleur in deur met die glinsterpenne sommige swart lyne te omlyn of die ontwerp in te kleur.
  7. Sodra al die patrone in die verskillende kleure voltooi is, moet die eiers oornag droog word voordat daar ’n laag kleurlose vernis aangewend kan word om jou unieke paaseiers te seël en beskerm.
  8. Vind die beste plek op die Paastafel om jou handwerk uit te stal.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.