Ruk jou gastekamer só reg vir die vakansie

Die feesseisoen bring jaarliks mense bymekaar, insluitend oornag- of naweekgaste. Daarom is dit nou die regte tyd om jou gastekamer af te stof, en op te tof, vir almal wat kom kuier.

Elbe Truter, verkoopsbestuurder van Volpes en Biggie Best, stel hierdie sewe wenke voor om jou familie en vriende vanjaar ʼn luukse ervaring in jou gastekamer te gee, wat hulle sommer gou-gou tuis sal laat voel.

Gehalte beddegoed

Daar is nie ʼn beter gevoel as om in ʼn bed te klim wat vars en skoon voel nie. Katoen is ʼn goeie opsie vir beddegoed, omdat dit natuurlik is, van ʼn uitstekende gehalte is en kan asemhaal in die warm somermaande. As jy uitspattig wil wees, kies ʼn draadtelling in jou linne van 300 en skaf Egiptiese katoen aan vir ʼn hotel-gevoel.

(Foto: Verskaf)

Maak skoon

Raak ontslae van goed wat rondstaan op oppervlaktes in jou gastekamer sodat jou gaste plek het om hulle benodighede neer te sit. Maak ook seker daar is genoeg stoorspasie en pakplek vir jou gaste. ʼn Maklike manier om stoorspasie te vermeerder is om ʼn paar mandjies in die kamer neer te sit.

(Foto: Verskaf)

Bring lewe in

ʼn Pot met vars blomme, ʼn potplant of ʼn takkie uit jou tuin gee ʼn kamer onmiddellik lewe.

(Foto: Verskaf)

Gemak

ʼn Gemaklike stoel sal jou gaste die geleentheid gee om tyd weg van die aksie af deur te bring. Stapel ook ʼn paar van jou gunsteling-boeke en tydskrifte vir jou gaste om te geniet wanneer hulle wil.

(Foto: Verskaf)

Dink aan gordyne

As jy uitblok-gordyne het, is dit nou dalk die tyd om dit te gebruik. Dit sal help om die kamer koel, donker en stil te hou. Dit sal ook jou gaste help om lekkerder te kan slaap omdat dit die son sal uitblok.

(Foto: Verskaf)

Badkamer

Indien jou gastekamer sy eie badkamer het, kan jy dit oorweeg om daar ook ekstra aandag te gee voor jou gaste kom. Voorsien genoeg, skoon handdoeke en matjies en gebruik kamer-parfuum en kerse om die spasie meer gemaklik te maak.

(Foto: Verskaf)

Ekstras

Rond jou gastekamer af met bedlampies, ʼn ekstra kombers, ʼn paar mooi kleurvolle kussings en ʼn klein geskenkie op die bed wanneer die gaste arriveer.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.