Skep só ’n stylvolle tuiskantoor

Tuiskantoor (Foto: Biggie Best)

Die tuiskantoor is geen uitsondering meer nie en het vinnig die norm vir baie mense geword. Of jy nou ʼn hele kamer of ʼn klein gebied in die huis as werkplek het, jy kan ʼn pragtige, funksionele oase skep wat jou sal inspireer en help fokus.

Die huisware-handelaar Biggie Best bied die volgende wenke om vir jou die perfekte werkruimte te skep.

Meubels

Die eerste stap is om slim meubelaankope te doen. Dink aan hoe jy te werk gaan en koop eers daardie items wat van die uiterste belang is. Kyk na meubels wat mooi maar tog funksioneel is, én wat die res van jou huis sal aanvul.

Groenigheid

Bring lewe in jou huis met groenigheid en plante. As jy nie groen vingers het nie, hoef jy jou nie te bekommer nie, want jy kan pragtige fop-plante en -blomme koop wat byna nes die ware jakob lyk. Jy kan kleiner plante kies om op jou lessenaar neer te sit, of groter plante wat in ʼn pot op die vloer kan staan.

Tuiskantoor (Foto: Biggie Best)

Beligting

Kies ʼn gedeelte in jou huis wat baie natuurlike lig kry. Gee jouself ʼn mooi uitsig langs ʼn venster, maar maak wel seker daar is nie ʼn weerkaatsing op jou rekenaarskerm nie. Jy kan ook ʼn lampie op jou lessenaar neersit vir werk wat in die aand gedoen word of fyner werk waar jy meer lig nodig het.

ʼn Gemaklike stoel

ʼn Stoel van goeie gehalte wat aan al jou behoeftes voldoen, is uiters belangrik. Hoewel ʼn tradisionele lessenaarstoel met wieletjies ʼn goeie keuse is, kan ʼn hoërug-eetkamerstoel ook werk.

Indien jou ruimte dit toelaat, kan jy ʼn ekstra gemaklike stoel naby jou lessenaar neersit waarheen jy tydelik kan wegtree om jou te verfris en kreatiwiteit op te bou. Sulke stoele is ook ʼn goeie plek om ʼn aksentkleur in jou ruimte te bring.

Bêreplek

Tuiskantoor (Foto: Biggie Best)

Jou tuiskantoor moet netjies en skoon wees, so maak seker jy het genoeg bêreplek vir alles wat jy kortkom. Gebruik mandjies vir ekstra goed soos penne, oorfone, plaknotas en ʼn kramdrukker. Rakke kan dan gebruik word om boeke en papiere te bêre. Die rakke kan ook gebruik word om ʼn paar interessante kleure met bykomstighede toe te voeg.

Bykomstighede en kleur

Meubels met ʼn dekoratiewe element en bykomstighede met aksentkleure kan die gemaklike gevoel van jou tuiskantoor vestig. Geel en groen is tans in die kol met dekorgiere, en blou is ook immergewild – veral in donker, diep skakerings.

Helder kussings, ʼn pennehouer, notaboekies of ornamentele beeldjies kan alles op dié manier gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.