Soek jy werk? Dan moet jou CV só lyk

Foto ter illustrasie. (Foto:
João Ferrão/Unsplash)

Die arbeidsmark het die afgelope anderhalf jaar onherroeplik verander, en so ook die vaardighede wat werkgewers soek wanneer hulle na die CV’s van voornemende kandidate kyk.

“Die aard van die werkplek tydens die Covid-19-pandemie het ʼn aantal vaardighede in die kollig geplaas wat voorheen goed was om te hê, maar wat nou baie belangrik geword het om die bal aan die rol te hou,” sê Peter Kriel, hoofbestuurder by The Independent Institute of Education, Suid-Afrika se grootste en mees geakkrediteerde private hoëronderwysinstelling.

Dit is daarom noodsaaklik vir studente of skoolverlaters wat vir hul eerste werk aansoek doen, werksoekers wat weer tot die arbeidsmark wil toetree of mense wat ʼn nuwe uitdaging wil aanpak, om hul CV’s by te werk sodat dit weerspieël hoe hulle hierdie vaardighede in die pos waarvoor hulle aansoek doen, gaan toepas.

Kriel sê sommige van die eienskappe waarna werkgewers in die toekoms sal soek, sluit in die vermoë van ʼn kandidaat om veerkragtig te wees en onder druk te werk, om onafhanklik te funksioneer en gemaklik te wees in ʼn aanlyn werkomgewing waar terugvoer elektronies verskaf word en die kandidaat virtueel aan vergaderings moet deelneem.

Vername bestuurders het die afgelope jaar geleer en gegroei, en verwag nie emosielose supermense wat nie ʼn tree tydens die pandemie gemis het nie, meen Kriel.

“Benewens posrelevante kwalifikasies kan werksoekers hulle ook in die arbeidsmark onderskei deur die vaardighede te beklemtoon wat ʼn mate van vertroue by die werkgewer skep,” sê hy. “Dit is enigiets wat aandui dat ʼn persoon met sy werk sal voortgaan, selfs te midde van uitdagende omstandighede wat voortduur of later weer te voorskyn kom, soos ʼn wêreldpandemie.”

Volgens Kriel kan studente wat vir hul eerste werk aansoek doen voorbeelde gebruik van hoe hulle hul opvoedkundige reis tydens die inperking suksesvol bestuur het. Mense wat reeds werk en ʼn verandering wil aanbring of wat vir ʼn bevordering wil aansoek doen, kan probeer om konkrete voorbeelde te identifiseer van hoe hulle hul werk en tyd gedurende die pandemie bestuur het.

“In die verlede was spesialisvaardighede uiters belangrik, maar nou, ongeag die vakgebied, behoort ʼn persoon veelsydig te wees. Jou waarde as kandidaat kom nie meer net uit jou hooffokusveld nie, maar uit die unieke kombinasie van vaardighede wat jy na die tafel toe bring. ”

Kriel sê hierdie tydperk bly op baie fronte ontstellend, maar voeg by dat daar vir die individu en die samelewing geen ander keuse is as om vorentoe te beweeg nie.

“Dit is nie ʼn tyd om te wag totdat dinge meer sin maak of beter word nie. Jy moet alles in jou vermoë doen om op jou selfvertroue, vaardighede en persoonlike bemagtiging voort te bou. Deur jou benadering tot werkaansoeke te verander en jou persoonlike handelsmerk by die huidige arbeidsmark aan te pas, kan jy tree vir tree aanhou daarna streef om jou doelwitte en ideale te bereik. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

BAIE belangrik is dat mense op hul spelling, leestekens ens moet let. Ek kan soms nie glo wat se swak spelling in aansoeke voorkom nie. Asblik toe met so ‘n aansoek regtigwaar. As jy te lui is om seker te maak alles is reg dan werk jy nie hier nie.

Susan ·

Stem saam met Elmarie! Dit is verstommend hoe swak mense se spelling en woordgebruik is. As ‘n Taalonderwyser van meer as 30 jaar steek dit my dwars in die krop om iets te lees wat wemel van spelfoute en verkeerde woordkeuses, om nie eens te praat van leestekengebruik nie. Selfs al is jy gegradueerd maar jy kan nie spel nie, is jy eintlik steeds ongeletterd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.