Trek vir jou huis ʼn warm baadjie aan dié winter

Soos dit kouer word bring ons baie meer tyd binnenshuis deur. Daarom is dit ʼn goeie idee om hierdie winter ʼn paar veranderinge aan jou huis se dekor aan te bring, om ʼn gemaklike, snoesige tuiste te skep waarin jy op koue aande kan opkrul. Volpes gee hierdie vyf wenke:

Nooi die buitekant in

In die winter is dit dikwels te koud om tyd buite deur te bring, so hoekom bring jy nie die buitekant na binne nie?

Blomme, plante en groenigheid in jou huis bring ook lewe aan ʼn vertrek. As jy nie groen vingers het nie is fopblomme net so ’n goeie idee, omdat dit jou gemoed sal lig. Dit is maklik om te onderhou en sal kleur bring aan kamers wat dalk vaal kan lyk.

Fopblomme is ‘n maklike manier om die buitekant na binne te bring (Foto: Volpes)

Kleur en tekstuur

Die regte kleure en teksture kan jou huis onmiddellik snoesiger laat lyk en voel. In die winter is juweelkleure soos diep groen, warm klei, donkerpers en mosterd veral gewild.

Growwe teksture soos ʼn rottangmandjie, hout en leer help ook om gemak nou jou huis te bring. Moet ook nie bang wees om dik matte en komberse neer te lê om ʼn spasie op te kikker nie.

Juweelkleure gee jou huis ‘n warmer gevoel (Foto: Volpes)

Maak vuur

As jy gelukkig genoeg is om ʼn kaggel in jou huis te hê, weet jy hoe dikwels dié area in die winter gebruik word. Maak die kaggel ʼn fokuspunt in jou huis deur ʼn groot spieël, komberse, boeke en ander dekor naby daaraan te plaas.

As jy nie ʼn kaggel het nie, kan jy dieselfde met jou binnebraai doen, of jy kan bloot ʼn hoekie in jou huis identifiseer waar jy ʼn paar kerse kan aansteek.

Maak jou kaggel ‘n snoesige hoekie in jou huis (Foto: Volpes)

Snoesig in die bed

Skep vanjaar ʼn bed wat dit behoorlik moeilik sal maak om op te staan.

ʼn Luukse bed met klomp snoesige lae sal jou nie net warm hou nie, maar dit skep ook dimensie en styl in jou slaapkamer.

Hou by neutrale kleure wanneer jy beddegoed kies, en bring dan ʼn tikkie kleur in met komberse. ʼn Deken is ook ʼn goeie aanvulling in die slaapkamer in die winter omdat dit swaar is, jou sal warm hou en terselfdertyd stylvol lyk.

Voeg tekstuur en gemak by jou bed (foto: Volpes)

Warm badkamer

’n Badkamer kan maklik koud lyk en voel, maar daar is ʼn paar klein veranderinge wat jy kan aanbring om dit op te kikker.

Vervang die koue kleure in jou badkamer soos blou en wit met warmer kleure soos ʼn khaki-groen, room of roes. Ruil jou gewone handdoeke en badmatjies uit met dikker, snoesige, sagte materiale en voeg ʼn kamerparfuum by in geure van kaneel, vanielje en neutmuskaat.

Vervang jou wit handdoeke met warm kleure (foto: Volpes)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Net ek ·

Baie oulik, maar dit kos alles geld. Party van ons moet die sente 3 keer omdraai…………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.