Vaal goed kry nuwe lewe met découpage

(Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Die woord découpage is afkomstig van die France werkwoord decouper – om uit te sny (“to cut out”).  Découpage verg min kapitaal en kan dus tuis beoefen word deur oud en jonk, dis relatief eenvoudig en jy hoef nie eers ervaring te hê nie.  Dit behels die verpersoonliking, vernuwing en versiering van bestaande voorwerpe deur middel van prente plak.

As jy kan knip, skeur en plak is jy al halfpad daar. Gaan loer op die solder of in die garage vir ’n ou tas, stoel of dekorstukke wat ’n nuwe lewe nodig het. Nou is die tyd vir vernuwing, leef en kreatief wees met découpage sonder grense gedurende die afsonderingstydperk.

Jy benodig:

  • Enige gebruikte of nuwe houers van eie keuse, byvoorbeeld, keramiekvorms, blikkies, Pringles-skyfieshouer, glasbottels, glasbakkies, ou tasse, juweelboksies van hout, ou stoele, rame of lampskerms.
  • Verskeidenheid servette of enige papier soos Kerskaartjies, tydskrifte, geskenkpapier, plakpapier, ensovoorts.
  • Mod Podge-gom (Dit is ’n veeldoelige gom wat jou ontwerp stewig vasplak en deurskynend is as dit  droogword).
  • Vernis
  • Verfkwaste
  • Water
  • Morslappie

(Foto: Verskaf.)

Metode:

  1. Besluit watter vorm jy gaan gebruik. Vir hierdie artikel het ons ’n verskeidenheid artikels gedécoupage, maar om die découpage-tegniek te demonstreer, gebruik ek ’n keramiekhaas. Neem ’n klam lap en vee die keramiekvorm skoon.
  2. Kies nou jou servette en/of prente wat jy wil gebruik. Die servet bestaan gewoonlik uit drie lae.  Maak seker jy verwyder die onderste twee lae.  Vir découpage gebruik ons slegs die boonste gedrukte laag van die servet.
  3. Indien jy glas of blikkies gebruik was die vorm skoon met warm water en seep, sorg dat alle papier verwyder is. Maak goed droog.
  4. In die geval van die Pringles skyfie houer – is die houer eers met silver verf gespuit om ’n egalige kleur te verkry voordat die servet daarop geplak is.
  5. Plaas altyd koerantpapier op jou werkoppervlak ingeval jy mors. Sny of skeur nou jou prente uit.
  6. Voordat jy jou prente vasplak, maak seker jy is tevrede met die
  7. Gebruik ’n verfkwas en smeer die Mod Podge-gom aan jou vorm.
  8. Plaas jou ontwerp versigtig op die gegomde deel neer.
  9. Neem weer die kwas en smeer ’n laag gom bo-oor die prentjie. Neem ’n stukkie plastiek wat groter is as jou prentjie en plaas dit versigtig oor die prentjie op jou vorm. Vryf nou liggies met jou vingers die ontwerp vas op die vorm. (Die plastiek help dat jou servet nie sal skeur en jou vingers nie sal vasplak nie.) Verwyder die plastiek. Maak seker jy lig nie die servet saam die plastiek op nie.
  10. Indien jy kleiner stukkies servet gebruik, maak seker jy plak die laste so na as moontlik aan mekaar om eenvormigheid te verkry.
  11. Laat staan jou geplakte vorm om heeltemal om droog te word voordat jy ’n tweede laag Mod Podge-gom
  12. Laastens, wanneer jou vorm droog is na die tweede laag Modge Podge gom kan jy kleurlose vernis aanwend om dit verder te beskerm. Jou decoupage meesterstuk is nou gereed vir uitstal.

(Foto: Verskaf.)

Wenke:

Maklike uitsnymetode sonder die gebruik van ’n skêr:

  • Plaas jou servet/papier op jou werkoppervlak neer.
  • Neem ’n skoon kwas, doop dit in skoon water en trek ’n “nat lyn” om die prent of papier wat jy wil gebruik. Sit die kwas neer.
  • Gebruik nou albei hande en plaas dit weerskante van die nat lyn en trek saggies in teenoorgestelde rigtings totdat die servet/papier skeur. Die servet/papier sal al op die nat lyn skeur.

Die verskil tussen servet- en papier-découpage is dat die geskeurde papierstrook eers in ’n bakkie skoon water gedompel word voordat dit geplak word. Die rede hiervoor is dat die papier dan net so sag soos die servet is en makliker om te hanteer.

(Foto: Verskaf.)

Nog ’n idee:

Indien jy ’n glasbakkie vir, byvoorbeeld, oorbelle wil maak, onthou om die bakkie om te draai en die servet ook aan die onderkant te plak – die ontwerp skyn deur.

  • Besoek Cay Momberg se Facebook-blad vir nog oulike handwerkprojekte.
  • Spesiale dank aan my klas:  Danell Smit, Cailyn en Tegan Kapp, Lize-Marie Pieterse en Miguel van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae