Vadersdag: Maak ’n fotohouer van sement

(Foto: Verskaf.)

Deur Cay Momberg

Hierdie doen-dit-self-fotohouer van sement is maklik om binne ‘n naweek te maak met materiale wat jy dalk reeds in en om die huis het. Dit lyk modern vir enige lessenaar en is ’n ideale geskenk vir Vadersdag.

(Foto: Verskaf.)

Benodighede:

  • Houer om sement in te meng
  • Lepel
  • Beker water
  • Maatbeker (in dié geval ’n ou jogurthouer)
  • Sand
  • Sement
  • Herwinbare plastiekvorms
  • Stempels (alhoewel ek dit nie gebruik het nie)
  • Oliesproei of kookolie
  • Plastiek om gegote sement mee te bedek
  • Spuitbottel met water om sement mee te sproei
  • Handskoene (opsioneel)

So maak mens

Gebruik ou keramiekwynglase en herwinbare plastiekhouers as vorms vir jou sementprojek.

Hoewel ek baie vorms met sement gemaak het, gaan ek hier net verduidelik hoe maak mens ’n fotohouer van sement. Vir die fotohouer benodig jy nie twee houers wat inmekaar pas soos wanneer jy ’n sement potplanthouer maak nie, maar een vorm soos, byvoorbeeld, ’n ou keramiekwynglas.

Jy kan met plastiekhandskoene werk om jou hande teen die sementmengsel te beskerm.

1. Spuit of smeer jou vorm – in dié geval jou keramiekwynglas (of jogurthouer) – deeglik met kookolie of oliesproei en sit eenkant neer (die olie is sodat die sement nie aan die vorm kan vassit nie). Wenk: Dit kan moeilik wees om die gegote sement uit ’n vorm te haal, neem dus jou tyd en smeer die vorm deeglik en goed.

(Foto: Verskaf.)

2. Neem nou ’n ander houer en meng jou sement en sand. Gebruik die formule van 500 gram sand en 250 gram sement om die mengsel te maak.

(Foto: Verskaf.)

3. Voeg water drupsgewys by en meng die sement totdat dit die digtheid van grondboontjiebotter het. Dit moet ‘n bietjie vorm hê, maar nie so nat wees dat dit insak nie, en nie so droog dat jy nie ‘n bal sonder groot inspanning kan maak nie. Roer die mengsel goed. Goue reël: Nie te nat nie, nie te droog nie. Wenk: Te veel water sal die sement loperig maak en dan kan jy dit nie gebruik nie tensy jy dit weer opvul met droë sement wat ’n vermorsing van ekstra sement sal veroorsaak.

(Foto: Verskaf.)

4. Skep nou lepels vol sement in jou oliegesmeerde vorm. Stamp die vorm sagkens op ’n harde oppervlak soos ’n tafelblad om soveel moontlik lugborrels uit te haal. Breek ’n sosatiestokkie in drie dele en druk dit in die middel van die vorms regdeur tot dit die onderkant raak. (Dit is om plek te maak vir die draad waarop die foto sal staan [sien punt 8]). Laat staan dit daar tot die vorm droog is.

(Foto: Verskaf.)

5. Neem nou ’n spuitbottel met water en sproei die sement in die vorm liggies met skoon water. Plaas die houers met sement op ‘n gelyk oppervlak buite bereik van direkte son en bedek dit met ‘n groot stuk plastiek. Wag 24 uur voordat jy dit omdraai en uitgooi. Dit gee die sement kans om droog te word en weg te trek van die kante af

6. Tyd om jou handewerk te aanskou. Vat die stokkies vas tussen twee vingers en trek die gegote sement uit die wynglas. Indien die sementvorm nog bietjie vassit, keer die vorm om en laat die sementvorm saggies in jou hand omkantel. (Indien dit nie wil uitkom nie, tik die kante van die vorm saggies met ’n mes. Dit behoort dan uit te val.) Verwyder die stokkies

(Foto: Verskaf.)

7. Die vorms wat jy gebruik het, kan altyd weer gebruik word om nog sementartikels te maak. Was dit deeglik met water warm en seep ná gebruik en bêre. Wenk: Standaard sement het gruis of klippies in en dit kan die algemene voorkoms van enige sement doen-dit-self-projek beïnvloed. Daarom het ek ‘n gladde sement soos teëlsement gebruik wat geen gruis of klippe bevat nie. Enige ander fyn sement wat gewoonlik gebruik word om beton te herstel, kan ook gebruik word. Solank jou projek nie te groot is nie, is dit, volgens my, die beste sement om te kies.

Hoe om jou fotohouer te voltooi:

  • Neem ’n draad en tang.  Krul die punt van die draad om ’n lus te maak wat ’n foto kan hou.
  • Ryg die draad met houtkrale.
  • Steek die draad deur die sementhouer en buig die punt aan die onderkant effens om sodat dit stewig staan.
  • Plaas nou jou gunsteling familiefoto daarin en gee dit vir Vadersdag.

(Foto: Verskaf.)

(Foto: Verskaf.)

Hoe om jou klip papierhouer te voltooi:

Neem n groterige ronde klip. Was dit skoon en laat dit goed droog word. Neem ’n permanente ink Koki-pen en skryf ’n boodskap daarop. Seël met kleurlose vernis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.