Versorg só jou hare in die winter

(Foto: Unsplash/ Element5 Digital)

Soos wat jy met die oog op die koue wintermaande spesiale sorg aan jou vel moet gee, verdien jou hare ʼn aangepaste versorgingsroetine omdat reën, ʼn droë klimaat en koue jou hare kan beskadig en lelik laat lyk as jy dit nie reg versorg nie.

Kouer temperature kan ʼn mens se hare klein krulletjies laat maak, laat uitdroog, laat breek en gesplete punte laat vorm.

Hier is ʼn paar wenke vir goeie haarsorg in die winter:

Was jou hare teen ʼn matige temperatuur

Hoewel ʼn warm stort lekker is op ʼn koue wintersaand, is dit nie goed vir jou hare of vel nie. Stel die temperatuur effens af na louwarm wanneer jy jou hare was. Water wat té warm is, sal jou hare vinniger laat uitdroog en laat afbreek. Dit sal ook jou kopvel irriteer wat veroorsaak dat hare nie optimaal kan groei nie.

Haarmasker

Jou gewone sjampoe en opknapper is nie meer genoeg vir die koue weer buite nie. Om te voorkom dat jou hare dié winter uitdroog, skaf ʼn haarmasker aan wat jy vir langer aan jou hare kan laat.

Jy kan een keer per week met die masker in jou hare slaap of jy kan dit in die oggend aanwend en die aand afspoel. Selfs ʼn halfuur met ʼn haarmasker op sal wonders verrig om vog in te hou.

Satyn-kussingsloop

ʼn Satyn-kussingsloop is ʼn goeie aanwins vir die winter omdat dit sagter op jou hare is. Jou hare breek reeds makliker in koue weer en die satyn sal beskerming bied wat ʼn gewone kussingsloop nie bied nie. Maak net seker jy vervang die kussingsloop gereeld sodat bakterieë nie daarop begin groei en meer skade as goed doen nie.

Bly weg van stilering

Die winter is die tyd om jou haarstileringstoestelle weg te pak. Gebruik so min as moontlik hitte op jou hare om te voorkom dat dit nie meer uitdroog as wat reeds die geval is nie. Indien jy wel jou hare moet stileer met hitte, beskerm dit met ʼn haarsproei wat hittebestand is.

Gaan vir ʼn sny

Dit is nou ʼn goeie tyd om die punte van jou hare te laat sny. Jy hoef nie ʼn nuwe kapsel te kies nie, maar vra jou haarkapper om net een of twee sentimeter van jou punte af te sny.

Dit sal jou hare gesonder laat lyk en voorkom dat gesplete punte later voorkom.

Bly weg van hoede en musse

Hoede, serpe, kappies en musse is ʼn gewilde manier om jou kop en ore warm te hou in die winter, maar dit kan jou hare ernstig beskadig. Jou hare vryf teen die materiaal wanneer dit bedek word, wat veroorsaak dat dit kan breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.