Video: Meet self jou korrekte bra-grootte in ʼn japtrap

Corlia Lemmer bied sedert 2014 naaldwerkklasse by haar ateljee in Montana, asook by groot materiaalwinkels in die Pretoria-omgewing aan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dit maak nie saak hoe goed jou bra gemaak is nie, as jy die verkeerde grootte dra sal dit nooit reg voel óf reg lyk nie.

Luidens navorsing wat deur Triumph Lingerie in Australië gedoen is, blyk dit dat ʼn yslike 80% van vroue die verkeerde grootte bra dra.

Gegewe die ongemaklike en dikwels uitputtende aankoopproses is dit te verstane. As die keëlgrootte reg voel, gly die bandjies af. As die bandjies perfek sit, voel dit of jou sirkulasie afgesny word.

Gevolglik gryp ons ʼn bra wat “reg voel”, maar dan verstaan ons nie waarom die vel aan ons sye voor middagete begin brand nie. Dié van ons wat egter wonder bo wonder die perfekte bra vind, klou dikwels veels te lank daaraan vas.

Maar om jou regte bra-grootte te bepaal hoef nie ʼn kopseer te wees nie.

Corlia Lemmer, eienaar van die naaldwerkskool How To Sew, is hier om al jou bra-verwante vrae te beantwoord.

In klasse leer sy vroue hoe om alles, van swembroeke tot onderklere te maak.

In dié Maroela Media-videoreeks help sy vroue onder meer om hulself vir die korrekte bra-grootte te meet, om te bepaal of ʼn bra té groot of té klein is en wys sy ook hoe om ʼn bra se bandjies korrek te verstel (wenk: Dit moet nie deur die vel op jou skouer sny nie).

Lemmer bied sedert 2014 naaldwerkklasse by haar ateljee in Montana, asook by groot materiaalwinkels in die Pretoria-omgewing aan. “Ek het met so baie vroue in kontak gekom wat kla dat hulle sukkel om klere in winkels te kry wat hulle perfek pas. Ek besluit toe om my passie vir vroue én naaldwerk te kombineer en sodoende meer vroue te bemagtig om klere vir hulself te maak.”

Sy vertel dat haar ouma ʼn liefde vir naaldwerk by haar as kind gekweek het en dat haar droom is om daardie vaardighede en liefde deur haar studente te laat voortleef.

Daar staan slegs “Daughter of the King” op die etikette wat Lemmer se studente aan hul klere vaswerk.

In haar propvol klasse leer sy vroue hoe om alles – van broeke, oefenklere, rokke, swembroeke en selfs onderklere – te maak.

Hoewel dit vir haar belangrik is dat vroue die regte grootte bra moet dra “om gemaklik en mooi te voel”, benadruk sy dat syfers nie in haar klasse ʼn bepalende faktor van skoonheid is nie. Daarom staan daar slegs “Daughter of the King” op die etikette wat haar studente aan hul klere vaswerk. “Dít en natuurlik wasinstruksies,” skerts sy.

  • Volg vir How to Sew op Facebook en Instagram.
  • Besoek How tot Sew se webwerf hier.
  • Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na [email protected].
  • Kyk hier na die eerste video waarin sy verduidelik hoe jy self jou bra-grootte by die huis kan meet:

Gebruik dié gids om jou perfekte grootte te bepaal. (Foto: Skermgreep vanuit video)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.