Vlak 4-inperking: Protokol vir ’n besoek aan die veearts

Besoeke aan veeartse is nou weer toegelaat, maar daar is paar riglyne wat gevolg word hiervoor in vlak 4 van inperking. (Foto: Verskaf.)

Slaan jou kieterkat se slegte asem jou asem weg en dink jy dit is dalk tyd vir ʼn tandheelkundige afspraak by die veearts? Of het jy na jou hond se inentingskaart gekyk en besef dit is amper weer tyd vir sy jaarlikse inentings?

Alhoewel veeartsenypraktyke en -klinieke tydens vlak 5 van die inperking slegs vir noodgevalle oop was, is dié beperkings op vlak 4 verslap. Daar is nuwe riglyne wat veeartse en troeteldiereienaars in die tyd vir ʼn besoek aan ʼn dierekliniek moet volg.

“Wat die meeste troeteldiereienaars nie besef nie, is dat jy nou wel jou troeteldiere na ʼn veearts mag neem, selfs al is dit nie ʼn noodgeval nie. Eienaars kan dus nou aandag gee aan daardie sake wat hulle die afgelope paar weke uitgestel of afgestel het toe die strenger algehele afsonderingsmaatreëls gegeld het,” sê dr. Guy Fyvie, Hill’s Pet Nutrition se veeartsenykundige adviseur.

Fyvie sê dié kwessies sluit inentings, sterilisasies, roetine-ondersoeke en behandelings soos tandheelkunde in.

Die Suid-Afrikaanse raad vir veeartsenykundiges (SAVC) het ʼn volledige uiteensetting van die vlak 4-riglyne op hul webwerf geplaas. Fyvie het ʼn paar belangrike punte uit die riglyne vir troeteldiereienaars uitgelig:

  • Bel jou veearts vroegtydig en maak ʼn afspraak vir jou troeteldier. “Jy kan ongelukkig nie net meer by ʼn kliniek of praktyk instap nie, behalwe as dit ʼn noodgeval is.”
  • ʼn Personeellid van die praktyk sal jou troeteldier by jou in die motor kom afhaal. “Daar sal van jou verwag word om in jou motor wag tydens die besoek, tensy die veearts jou versoek om saam in die kliniek in te kom. Die motor en parkeerterrein is nou die nuwe wagkamer van ʼn praktyk.”
  • Die personeel en die troeteldiereienaars moet ten alle tye ʼn masker dra.
  • Handhaaf sosiale distansiëring met ʼn afstand van 1,5 m tydens die besoek.
  • Betalings sal elektroniese geskied.

“Sommige troeteldiere se ouers sal dalk steeds versigtig wees om hul huise in hierdie tyd te verlaat, en dit is heeltemal te verstane. Voorkoming is egter altyd beter as genesing, en dit is natuurlik ook minder stresvol as jy jou hond of kat vir hul jaarlikse ondersoeke of roetinebehandeling neem – selfs tydens vlak 4 – as wat hulle in die toekoms ernstiger behandelings moet ondergaan, wat ook duurder kan wees,” voeg Fyvie by.

Fyvie sê selfdiagnose en tuisbehandeling is nie ideaal nie. “Daar is baie verkeerde inligting op die internet en dit kan selfs gevaarlik wees om die simptome van jou troeteldier self en in isolasie te probeer herken. ʼn Veearts se ervaring maak voorsiening vir ʼn holistiese en omvattende benadering in behandeling wat nooit vervang kan word nie.”

Hy meen die prosesse van ʼn besoek aan ʼn veearts kan maklik bestuur word met min ontwrigting vir die dier en sy eienaar, solank troeteldiereienaars versigtig is en die Covid-19-veiligheidsriglyne nakom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanEtz ·

Ek was genoodsaak om ons diere-kinders verskeie keer veearts toe te neem. Een jong Pekingese (4mnde oud) het bosluiskoors, te danke aan ‘n bloedoortapping, oorleef! Alle bogenoemde maatreëls was ook tydens vlak 5, by ons dierekliniek gehandhaaf. Uiters professioneel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.