Wat van ´n kantoorhond of adminkat?

Japie is Maroela Media se eie kantoorhond. Foto: Maroela Media

Almal het gedink om van die huis af te werk, is ʼn meer ontspanne werkstyl. Wel, dit is totdat almal dit begin doen het…

Skielik voel dit moeiliker as ooit te vore om die balans tussen jou werk en huislewe te vind, kantoorure is ʼn wollerige konsep en niemand het jou vertel dat jou nuwe kollegas tuis dit gaan geniet om jou vergaderings te onderbreek nie.

Kinders wêreldwyd, die viervoetiges ingesluit, het die nuwe sterre van aanlyn vergaderings geword. Honde lewer gretig hul eie opinies tydens ʼn belangrike voorlegging, of belangstellende katte vind troos op jou sleutelbord in die middel van die opstel van ʼn begroting.

“Ek dink nie ons almal het heeltemal besef watter impak dit op ons en ons troeteldiere gaan hê die oomblik toe dit verpligtend word om van die huis af te werk nie,” sê Carla Bath, bemarkingsbestuurder van Hill’s Pet Nutrition.

“Om saam met jou troeteldiere te kan werk, is egter een van die mees lonende en vertroostende ervaring. Dit kan boonop op die lange duur jou stres verlaag en produktiwiteit verhoog.”

‘n Kat het in Aprilmaand ‘n skriftelik waarskuwing ontvang vir sy wangedag in die tuiskantoor. (Foto: Popsugar.com)

Troeteldiere het egter die wêreld se tuiskantore oorgeneem en sorg vir talle komiese inskrywings op sosialemediaplatforms. Sommige se troeteldiere wen die Werknemer van die Week-prys en ander kry ʼn skriftelike waarskuwing van die huishouding se menslikehulpbronnebestuur vir hul wangedrag in werktyd.

Bath verduidelik waarom dit voordelig is om ʼn viervoetige kollega te hê:

      1. Om saam met ʼn troeteldier te werk, kan beslis jou stres verminder. Daar is reeds talle studies hieroor gedoen. Navorsing wat in The International Journal of Workplace Health Management verskyn het, het bewys dat personeel wat hul dae saam met ʼn troeteldier deurgebring het, se stresvlakke aansienlik laer was as werknemers wat dit nie gedoen het nie.
      2. Belê eerder in ʼn kantoorhond, as nog ʼn spanbouprogram. ʼn Eksperiment, wat deur die Central Michigan University(CMU) in Michigan, Amerika gelei is, het getoon dat ʼn onderneming wat honde by die werk toelaat, of self ʼn kantoorhond het, ʼn meer samewerkende benadering tussen medewerkers toon. Kollegas was meer bereid om saam met mekaar te werk sodra hulle sien hoe hulle op ʼn hond in hul teenwoordigheid reageer. Bath meen dieselfde beginsel sal geld vir wanneer kollegas mekaar se reaksie sien op ʼn troeteldier in ʼn aanlyn vergadering.
      3. Verhoogde produktiwiteit is nog ʼn voordeel van ʼn troeteldier in jou onmiddellike werkomgewing. ʼn Vinnig wegbreek in die sonskyn om jou hond of kat te streel, kan jou help om meer werk te verrig. Jy sal verfris voel nadat jy ʼn paar minute se gehaltetyd saam met jou nuwe viervoetige kollega spandeer het. (Dit is beslis een van die redes waarom Maroela Media vir Japie, ons eie kantoorhond, het!– Red.)
      4. As jy die afsonderingstydperk stoksielalleen moet aandurf, kan ʼn troeteldier dit beslis draagliker maak. Bath sê ʼn troeteldier as kollega sal jou eensame omgewing verlig as jy gewoond was om saam met ʼn span te werk.

Troeteldiere as kollegas hou talle voordele in. (Foto: Verskaf.)

“Afsondering is nie net ʼn aanpassing vir ons nie, maar ook vir ons troeteldiere, want skielik is die hele gesin nou tuis en ons het hul dagdomein geïnfiltreer. Tog is die werkdag saam met troeteldiere ʼn positiewe verandering wat die wêreld nou omarm het,” sê Bach met verwysing na talle diereskuilings se verslae dat meer mense besluit het om troeteldiere tydens die afsondering aan te neem.

“Ons troeteldiere is nou ons kollegas, spanmaats, teetydmaats, klankborde en rasieleiers in hierdie onseker tyd.”

  • Jy kan steeds Hill’s Science Plan-kos koop sonder om die huis te verlaat. Besoek hillspet.co.za/shop-online vir ʼn lys van aanlyn kleinhandelaars wat die troeteldierkos verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

My hond gaan reeds voor Covid-19 saam na vergaderings (insluitend sy naam op die bywoningsregister) en terreinbesoeke en slaap ook by tye oor. Hy het al slange in die veld uitgewys op ‘n terreinbesoek. Ongelukkig diskrimineer baie plekke en verkeerspolisie teen honde in jou kar. Sekere persone doen egter moeite om die hond te akkommodeer en vra dat hy moet terugkom. My hond gaan saam want hy is net te besig op sy eie by die huis sonder toesig. Hy is ‘n worsie/Jack Russell kruising.

charmaine ·

Die artikel is oulik en waar ons se reeds ons wonder wat dink die worshond of elke dag nou naweek is want ons heeldag by die huis en ek dink hy gaan baie swaarkry die dag as ons moet teruggaan kantoor toe. Hy loop al agter ons aan, le op die bank waar ek sit of le in sy bed maar kyk my met groot oe aan
Dit is is de beste kollega ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.