Wenke om die vlam in jou verhouding hoër te laat brand

(Foto: Pixabay)

In 2020 het jy baie tyd in die huis saam met jou geliefde deurgebring wat die vlam in baie verhoudings kon laat verflou, maar alles is nie verlore nie! Enige verhouding het sy goeie en slegte tye en dit hang van die twee mense in die verhouding af om seker te maak dit bly opwindend en liefdevol.

Hier is ʼn paar wenke om te volg as jy dink jou verhouding het ʼn hupstoot nodig:

  1. Skuif jou foon opsy

Deesdae is ’n selfoon vir mense soos ʼn derde hand – ons is altyd daarmee besig, selfs wanneer ons veronderstel is om gehaltetyd saam met ons geliefde te spandeer. Gelukkig is daar ʼn manier om dié probleem te hanteer.

Jy en jou geliefde kan selfoonvrye tyd skeduleer waar julle albei jul selfone opsy skuif en eerder op mekaar fokus. Maak ʼn tyd vas soos byvoorbeeld 18:00 tot 21:00 elke aand en gebruik die tyd om met mekaar te gesels en net saam te wees.

  1. Lag meer saam

Om moeiteloos saam met jou geliefde te kan lag is belangrik in enige verhouding en dit dra by tot gedeelde vreugde en herinneringe. Na ʼn jaar waar daar vir baie mense min rede was om te lag, kan dit dalk nodig wees om hierdie oomblikke te skep.

Kies ʼn snaakse reeks op die televisie, gaan kyk ʼn komedie-vertoning of nooi ʼn groep vriende wat altyd ʼn glimlag op jul gesig sit oor vir braai.

  1. Aanmoediging

Een van die beste maniere waarop jy jou geliefde kan wys jy gee om is om hulle aan te moedig op alle terreine van hul lewe – werk, familie, vriende en gesondheid.

Klein woordjies van bemoediging, komplimente en deur te luister as hulle praat, kan dalk al wees wat nodig is om jou ondersteuning te voel. Paartjies wat voel daar is ondersteuning vir mekaar het dikwels ʼn hoër vlak van vertroue en is daarom ʼn gelukkiger en meer verliefde paar.

  1. Gesels meer met mekaar

Baie keer is ons te besig met allerhande goed om ʼn gesprek met ons geliefde te begin, of ons voel asof ons so baie tyd saam spandeer deur die dag dat dit nie nodig is om met mekaar te gesels in die aand nie.

Dit is egter ʼn gevaarteken in ʼn verhouding as jy ophou om met mekaar te praat.

Maak tyd om sinvolle en aangename gesprekke met jou maat aan te knoop met byvoorbeeld ʼn gereelde afspraakaand (date night) en praat oor dinge wat opwindend en interessant is vir julle albei.

  1. Doen moeite

Na ʼn jaar waar baie mense net by die huis was en nie moeite met hul voorkoms gedoen het nie, voel dit dalk vreemd om enigiets anders as jou huisklere te dra. Tog is dit soms nodig vir jou verhouding om jou sweetpak weg te pak, al is dit net vir een aand ʼn week, en om iets moois aan te trek.

Trek ʼn mooi baadjie, das of rok aan, en rond dit af met ʼn heerlike parfuum om jou maat se aandag te trek wanneer hulle dit nie verwag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.