Wenke om jou badkamer sélf op te kikker

ʼn Badkamer is ʼn plek wat ons wil hê skoon en lig moet voel. ʼn Plek waar ʼn mens kan ontspan en elke oggend vars kan aanpak. Maar om ʼn badkamer oor te doen kos ook dikwels baie geld, wat dit buite die kwessie maak.

The Home Collective is ʼn webtuiste wat jou inspirasie gee oor dekor en hoe om ruimtes in jou huis op die knap. Hier is van hul beste wenke om jou badkamer mooi te maak sonder om jou sak te ruk.

Verf

ʼn Mens het nie die altyd die finansies om ʼn groot badkameropknapping aan te pak nie, so ʼn koste-effektiewe manier om dieselfde effek te kry, is om ou badkamerteëls te verf met Super Grip – ʼn spesiale verf vir teëls. Die verf is maklik verkrygbaar by hardewarewinkels. Kies ʼn mooi kleur of ’n neutrale wit, en voilà.

Verf jou badkamerteëls vir ‘n goedkoper opkikker-opsies (Foto: The Home Collective)

Spieëltjie, spieëltjie

Kies ’n mooi spieël as aksent om die vertrek te anker. Dit gee ook dadelik ’n vars en modieuse gevoel. Die nuwe neiging is ronde metaalspieëls of boogvormige spieëls, wat veral ʼn donkerder badkamer kan laat lyk of daar ʼn venster in is.

Ronde metaalspieëls is hoogmode (Foto: The Home Collective)

Trek die oog

ʼn Lang rak bokant ’n bad is ’n slim manier om ’n fokuspunt te maak – stileer dit met ’n plant, mooi kuns, badprodukte of kerse.

Trek die oog met ʼn rak in jou badkamer (Foto: The Home Collective)

Blindings

Sagter blindings wat uit lap gemaak word, soos Romeinse blindings, help om dadelik die koue teëls van ’n badkamer te versag en die vertrek ’n warmer gevoel te gee.

Sagter blindings skep ‘n warm gevoel in jou badkamer (Foto: The Home Collective)

Netjies en nuttig

Gebruik ’n skinkbordjie of ’n pragtige keramiekbord om jou skoonheidsprodukte langs die wasbak uit te stal en so ook netjies te hou. Sit ’n glasie of koppie by met grimeerkwaste in en ’n vaas met blommetjies. Nou lyk die wasbakrand mooi, maar bly steeds funksioneel.

Hou jou badkamer-bykomstighede netjies maar steeds mooi (Foto: The Home Collective)

Hake

Kies mooi hake vir die badkamermuur; dit gee dit ’n meer modieuse gevoel as die gewone handdoekreling. Kies hout- of koperhake en hang ’n mooi linne kamerjas of sagte handdoeke daaraan.

Mooi hake gee jou badkamer ‘n modieuse gevoel (Foto: The Home Collective)

Besoek gerus The Home Collective se Instagram-blad vir meer dekorwenke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.