Wenke vir witter tande

(Foto: Pixabay)

Almal wil mooi, wit tande hê, maar nie almal het die geld om duur produkte te koop of behandelings te ondergaan om hul tande witter te maak nie. Daar is wel ʼn paar goed wat jy kan doen om witter tande op ʼn natuurlike manier te verkry.

  1. Eet die regte groente en vrugte

Die kossoorte wat jy eet, het ʼn groot invloed op hoe wit jou tande lyk. Groente en vrugte is nie net goed vir jou liggaam nie, maar dit sorg ook vir witter tande. Pynappel en aarbeie is veral bekend daarvoor dat dit help om jou tande witter te laat vertoon.

Eet ook ander groente en vrugte wat hoog is in vitamien C, soos lemoene, tamaties en papaja.

  1. Koeksoda

Koeksoda is al lank bekend as ʼn natuurlike en goedkoop manier om jou tande witter te maak. Meng ʼn bietjie water met koeksoda om ʼn pasta te maak, en borsel dan jou tande daarmee.

ʼn 2012-studie het bevind dat mense wat tandepasta met koeksoda daarin gebruik, binne ses weke ʼn merkwaardige verskil kan sien aan hoe wit hul tande is.

  1. Drink versigtig

Moenie te veel koffie en tee drink nie, aangesien dit jou tande oor tyd heen kan vlek. As jy yskoffie verkies, drink dit eerder deur ʼn strooitjie sodat dit nie aan jou tande raak nie.

Moenie jou tande borsel direk nadat jy koffie gedrink het nie. Hoewel dit voel asof dit ʼn tree in die regte rigting is, gaan dit meer skade aanrig as goed doen. Koffie is ʼn suur en as jy jou tande borsel direk nadat jy ʼn suur eet of drink, breek dit die tandemalje af en lei dit na makliker vlekke en verkleuring.

  1. Mondhigiëne is belangrik

Voorkoming is altyd beter as behandeling, so moenie goeie mondhigiëne nalaat wanneer jy jou tande probeer wit hou nie.

Borsel en vlos jou tande twee keer per dag vir twee minute om seker te maak daar is nie skadelike bakterieë wat vir lang tydperke op jou tande bly nie. Maak seker jy kom by al die hoekies in jou mond uit. Borsel jou tande in sirkelbewegings – borsel die binnekant, buitekant en kou-oppervlak van jou tande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.