Winterhuisbrande: 11 wenke om jou gesin te beskerm

Foto ter illustrasie. (Argieffoto.)

Soos die winter stadig maar seker sy ysige greep verstewig, word gasverwarmers, kaggels, elektriese verwarmers, paraffienstowe, elektriese komberse en dies meer ingespan om die koue te verdryf.

Na ʼn toename in huisbrande – met van die mees onlangse gevalle in Bergbron, Soweto, Weltevredenpark, Doornpoort en Secunda – maan Virseker Suid-Afrikaners om waaksamer te wees wanneer dit by brandveiligheid kom.

Volgens Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, is paraffienstowe en kerse steeds die hoofoorsaak van brande in informele nedersettings, terwyl elektriese en gasverwarmers ʼn groot uitdaging aan nooddienste in ander woongebiede bied. Daar is egter talle ander maniere waarop huisbrande kan begin.

“Een van die grootste bekommernisse oor huisbrande is die oortuiging: ‘Dit sal nooit met my gebeur nie’,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Die feit is dat dit kán en sál as jy net vir ʼn oomblik nie op jou hoede is nie. Dit neem net een gloeiende kooltjie naby ʼn vlambare item, een foutiewe gaspyp of draad of een skakelaar wat per ongeluk in die aan- of oop-posisie vergeet word vir jou om deel te word van die statistieke van totale verlies van jou eiendom… of erger.”

Virseker gee die volgende veiligheidswenke om te keer dat winter-warmbly in ʼn ysige katastrofe ontaard:

  1. Vertrou die kenners: Maak seker dat alle verhittingstoestelle deur die SABS goedgekeur en, waar toepaslik, deur ʼn geakkrediteerde diensverskaffer geïnstalleer is. Verhittingstoestelle wat nie korrek geïnstalleer is nie, was al die oorsaak van talle sterftes in Suid-Afrika.
  2. Lees die handleiding en volg dit: Dit is noodsaaklik om toestelle binne die limiet, soos bepaal deur die vervaardiger, te gebruik. Om byvoorbeeld ʼn toestel op maksimum hitte te stel vir verlengde periodes, om dit nie op ʼn gelyk oppervlak te plaas nie, om dit te skuif terwyl dit aan is of om ʼn toestel vir langer te laai as wat aanbeveel word, kan ʼn ernstige risiko inhou.
  3. Bedrading- en pypinspeksie: Maak seker dat alle toestelle, sowel as hulle pype en bedrading, in goeie en veilige, werkende toestand is. Neem gasbottels gereeld na jou naaste gashandelaar om hulle na te gaan vir lekplekke. Dit sluit gasbottels vir verwarmers, braaie en stowe in.
  4. Hou ʼn ogie: Moet nooit verwarmers, elektriese komberse, kerse of stowe sonder toesig laat nie. Wees veral versigtig voordat jy in die bed klim en maak seker dat alle hittebronne afgeskakel of uitgedoof is.
  5. Oorlading: Moet nooit ʼn kragbron oorlaai nie. Skakel alle toestelle wat nie gebruik word nie af en prop hulle uit.
  6. Ventilasiewys: Maak seker dat verhitting-, elektriese en elektroniese toestelle in ʼn ruim en goed-geventileerde spasie is om oorverhitting te voorkom. Moenie verwarmers met klere of ander materiaal wat jy graag wil warm of droog maak, bedek nie.
  7. Vuur eerste, gas tweede: As jy ʼn gasverwarmer of -stoof het en dit self moet aansteek, maak seker dat jy die vuurhoutjie of aansteker eerste aansteek, voordat jy die gas oopdraai.
  8. Klottervry: Beperk klotter (clutter) tot ʼn minimum –binne en buite om jou huis – omdat dit brandstof vir ʼn vuur kan wees. Hou en stoor vlambare materiale, insluitend brandstof, ver weg van hittebronne.
  9. Rookslim: Installeer rookverklikkers in jou woning, indien moontlik. Dit is ʼn uitstekende vroeë alarm.
  10. Hulp, ʼn armlengte ver: Hou ʼn brandblusser byderhand, veral naby die kombuis en ander areas waar hittebronne gereeld ingespan word. Maak seker dat jy weet hoe om dit te aktiveer en te gebruik.
  11. Noodplan: Maak seker dat uitklinkskakelaars en afsnykleppe in ʼn goeie, werkende toestand is. Hou ook alle nooddienskontaknommers byderhand en moenie wag tot ʼn vuur buite beheer is voordat jy die nooddienste skakel nie.

“Aandag aan besonderhede en volgehoue waaksaamheid kan jou huis en die lewens van jou geliefdes red; dit is dus van kritieke belang om nie gesprekke oor brandgevare en -veiligheid vir later te los, wanneer dit dalk te laat kan wees nie.

“Wanneer ʼn ramp jou wel tref, is dit altyd belangrik om eerstens te onthou dat jou lewe belangriker as enige besitting is en tweedens dat goeie, omvattende versekeringsdekking ononderhandelbaar behoort te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.