Stel só haalbare Nuwejaarsvoornemens

Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer mense terugkyk op die jaar wat verby is en beplan vir die nuwe jaar wat voorlê. Daarom is Nuwejaarsvoornemens op almal se lippe.

Nuwejaarsvoornemens moet reg aangepak word om te verseker dat dit jou suksesvol eerder as soos ʼn mislukking laat voel wanneer jy dit teen Februarie nie meer kan volhou nie.

Volg hierdie maklike wenke om seker te maak jy stel haalbare Nuwejaarsvoornemens:

Wees realisties

Niemand kan van ʼn vis verwag om soos ʼn skaap te begin blêr nie; moet dus ook nie van jouself verwag om onrealistiese Nuwejaarsvoornemens te behaal nie.

Moenie dink jou hele lewe gaan om die een voorneme draai nie. Jou lewe gaan heel waarskynlik normaalweg verloop en jou Nuwejaarsvoornemens moet daarby kan inpas.

As jy nog nooit 5 km aaneen gedraf het nie, gaan dit baie moeilik wees om teen Junie die Comrades te hardloop. As dit jou twee jaar geneem het om 10 kg aan te sit, moenie beoog om dit binne ʼn paar maande af te skud nie. Wees realisties oor jou doelwitte.

Wees spesifiek

Dít is die belangrikste ding wat jy kan doen wanneer dit kom by Nuwejaarsvoornemens.

Dit help nie jy beloof op 31 Desember om meer te spaar, minder te rook en meer te oefen wanneer die volgende oggend aanbreek nie.

Stel vir jouself spesifieke beperkte (net een of twee) doelwitte met ʼn spertyd. Eerder as om bloot “meer” te spaar, besluit op ʼn bedrag wat jy elke maand gaan spaar en besluit waarop jy die geld wil uitgee. As jy byvoorbeeld met vakansie wil gaan, besluit op ʼn datum sodat jy weet jy het X bedrag geld nodig sodat jy in X maand Spanje toe kan gaan.

Dit maak jou voorneme meetbaar en jy kan maklik sien of jy dit behaal het of nie.

Kry vir jou ʼn maat

Enige gewoonte is makliker om aan of af te leer as daar iemand is wat saam met jou daardeur gaan. As dit nie jou lewensmaat is nie, vra jou sibbe, ouers of vriende om ʼn Nuwejaarsvoorneme saam met jou aan te pak.

Dit maak dit nie net maklik om gehoorsaam te bly wanneer jy vyfuur die oggend gimnasium toe moet gaan nie, maar dit omskep ook die Nuwejaarsvoorneme in ʼn sosiale geleentheid waar jy iemand beter kan leer ken.

Sê vir iemand

Of jy dit nou vir die mense in jou Bybelstudiegroep vertel en of jy dit op jou Facebook-profiel deel, dit hou jou dadelik meer aanspreeklik as jy vir ander mense van jou voorneme vertel.

Dit is partykeer maklik om ʼn voorneme te laat vaar as niemand daarvan weet nie, maar wanneer jy weet almal gaan jou by die volgende braai vra of jy al ophou rook het, sal dit jou motiveer om aan te hou probeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.