Gedagte vir die dag: Afgode

meer_man_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. (2 Korintiërs 3:18)

Ons word wat ons aanskou.

Dis dié eenvoudige beginsel: Ons word dít wat ons inkry. Ongesonde kos gee ons ’n ongesonde liggaam. Te veel negatiewe gedagtes maak ons negatiewe, ondankbare mense. Flieks en stories en programme vol geweld en woede maak ons afgestompte mense wat ’n diepe onvergenoegdheid in ons ronddra.

Maar gesonde kos sorg vir ’n gesonde liggaam. Gedagtes vol dankbaarheid en blydskap maak ons positiewe, gelukkige mense. Stories en tekste en preke wat God se woord bring, het die vermoë om ons tot standvastige en liefdevolle mense te omvorm.

Inderdaad: Ons word wat ons aanskou. God het ons só gemaak.

Dis daarom dat Hy reg aan die begin van die Tien Gebooie dié ernstige vermaning oor afgode aan sy kinders rig. “Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My” (Eks 20:4).

Afgode is nie maar die beelde of natuurverskynsels wat deur die antieke mense aanbid is nie; dis énigiets waarop ons ons vertroue plaas. Dis daardie dinge waaraan ons die meeste tyd en energie bestee en waarop ons die meeste van ons gedagtes rig.

My lyf, my huis, my beroep. Dít kan alles afgode word. My salaris, my eggenoot, my eie vermoëns. Hoe maklik vertrou ons nie dáárop nie?

Maar God eis ons onverdeelde trou. Hy vra al ons aandag, ons tyd en gedagtes.

Hy weet dat dít wat ons aanskou ons vorm. En Hy wil hê, met al sy liefde, dat ons soos Hy sal word. Dat ons al hoe meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word (vgl. 2 Kor 3:18).

Hoe kry ons dit reg?

Ons word bewus van dit waarna ons kyk. Ons word bewus van ons ingesteldheid, van dít waarop ons die meeste van ons gedagtes rig. En dan dwing ons ons aandag terug na God toe. Ons neem ’n doelbewuste besluit om Hom “in te neem” – deur sy Woord, deur gebed, deur preke en boeke en stories oor Hom.

Dan sal Hy in ons hart leef, en sy Gees sal ons verander sodat ons al hoe meer soos Jesus word.

Here, help my om my tyd en energie op U te rig.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Ek erken dit…. ek gebid gevra alles wat my afgoed moet U wegneem en….sowaar gebeur wat ek nooit besef nie. Ek nie lief vir lees nie …..gees so kragtig kan net Christene storie boeke lees …geniet dit vreeslik …..soos sluier oor jou oe weg.

Beatrix ·

Net die Woord van God en die Heilige Gees bring wedergeboorte en genesing, bly in die Woord Wie Jesus IS. Die Swaard van die Gees word gebruik teen die aanvalle van die duiwel, sy leuens en struikelblokke om die mens van koers af te probeer dwing en die aandag van God te probeer aflei. Die suiwer Woord van God is die Brood van die Lewe en die Lewende Water, neem, eet en drink, dan sal jy nooit weer honger en dors word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.