Gedagte vir die dag: Betoon medelye

Foto verskaf aan Maroela Media

Lees: Lukas 6:35-36

Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is. (Lukas 6:36)

Die eienaar van Amazon, Jeff Bezos, het die hoogtepunte in sy lewe met ’n groep studente van Princeton gedeel. Hy het vertel van ’n keer wat hy saam met sy oupa en ouma in ’n motor gery het. Sy ouma het soos ’n skoorsteen gerook en hy het hom op ’n stadium daaroor vererg en gesê sy verkort haar lewe met nege jaar omdat sy so rook. Sy oupa het langs die pad gestop, vir Jeff gevra om ’n entjie saam met hom te gaan stap en toe gesê: “Dit is makliker om slim te wees as vriendelik.” Ons is soms so gou om vir iemand te sê presies wat ons dink. Ons simpatie of empatie is soms min. Ons veroordeel vinnig as iets ons nie pas nie. Ons het vinnig iets te sê oor arm mense wat nie geld het vir kos nie, maar dan rook. Het jy al een dag in ’n behoeftige persoon se skoene gestaan en gewonder wat jou gesin vanaand gaan eet? Of is jy een van die bevoorregtes met ’n spens vol kos en ’n vrieskas vol vleis?

Het jy al daaraan gedink dat sigarette die enigste middel is vir ’n arm persoon om die spanning van die lewe te verlig omdat hy nie ’n mediese fonds kan bekostig nie?

Ons het min medelye, want ons wil nie regtig betrokke raak nie. Ons sal behoeftige mense allerhande name noem, want ons het nie empatie nie. Ons gee vinnig geld net om van hulle ontslae te raak. Onthou, ware armes is skaam en soms so trots dat hulle eerder sal sterf as om hulp vra.

Ek vra weer, het jy dalk soos Jeff ’n vinnige antwoord? Weet jy hoekom mense in ’n bepaalde situasie is? Het jy al een dag in hulle skoene gestaan en gevoel hoe dit voel? Dit is makliker om slim antwoorde te gee as om medelye te hê.

Here, ek is soms so vinnig om te veroordeel. Gee vir my ’n hart vol medelye wat verstaan. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bly moedig ·

Ek is ook arm en ek stem saam met Jeff ouma kon daardie rook geldjie gebruik het vir kos Rook is ongeluk ongesond Ja ons ken nie almal se omstandighede nie maar ek glo as ons net Die Here vra om ons spanning weg te vat en te glo Hy sal dan sal dit beter gaan

Connie ·

Dit is maklik om van die kantlyn af te skree maar staan een dag in iemand anders se skoene.

Lizelle ·

Baie dankie vir die stof tot nadenke. Empatie is een van die vele fasette van liefde. As ons ingestel is daarop om te probeer “voel” hoe dit is om in iemand anders se skoene te staan, erken en ervaar ons daardie persoon as ‘n mens. Indien ons met ‘n kritiese ingesteldheid, bloot uit ons eie perspektief uit, oordeel, dan sien ons nie waarlik die mens raak nie. Ons projekteer ons eie kwessies. Trouens, dan’verontmenslik’ ons die persoon.

Mads ·

Dit is baie waar en ek en my man sit in so ‘n situasie en dis pynlik seer en ja mens voel soms minderwaardig en nikswerd nie. Dit breek jou selfbeeld. Maar elke oggend staan ons op en gaan werk hard (kommissie) maar ons hou aan glo dat God eendag as die tyd reg is ons sal beloon daarvoor. Ja dink voor jy oordeel dit trap mense net nog verder in die grond in

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.