Gedagte vir die dag: Beursies sonder gate!

sonsopkoms.jpg

Foto: flickr.com

Die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie. Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees. (Lukas 12:33b-34)

Hierdie dierbare land van ons maak ons almal soms moedeloos. Daar gaan feitlik nie ’n maand verby wat ons nie hoor, lees en ervaar hoe misdaad en korrupsie ons van alle kante bedreig nie. Die slegste is dat die mense in wie ons vertroue behoort te hê, skreiende voorbeelde stel. Natuurlik moet ek en jy alles in ons vermoë doen om dit te voorkom en ons daarteen te verset. Maar miskien belangriker as dit is die volgende vrae:

  • Leef ék elke dag ’n eerlike lewe in alles wat ek doen of sê?
  • Kan ander op my woord staatmaak? Lewer en doen ek wat ek belowe het?
  • Bid ek genoeg dat die magte van die bose verbreek sal word en dat die goeie sal seëvier?
  • Hoe kan ek in my daaglikse lewe ’n voorbeeld stel van iemand wat regverdig, eerlik en toegewyd is aan die regte dinge?
  • Hoeveel van my energie en tyd bestee ek aan die dinge wat van my af weggeneem kan word … en hoeveel aan dié dinge wat nooit gesteel kan word nie?

Die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Miskien moet ons meer tyd bestee aan die vul van daardie beursies. Dit gaan immers vir altyd hou!

Help my die regte prioriteite leef, Gees van God.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.