Gedagte vir die dag: Die Here van die leërskare is met jou

Doringboom_tak_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. Die Here  van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons.  (Psalm 46:11-12)

Ek wil hê jy moet iets baie duidelik verstaan; ek wens niemand beproewing of ’n doring in die vlees toe nie. Ek sal dit nooit oor iemand bid nie. Terselfdertyd kan jy seker wees dat wanneer dit gebeur, daar groei in jou lewe sal plaasvind. Dit sal jou versterk en meer volwasse maak. In retrospeksie, en nie terwyl jy daardeur gaan nie, sal jy sê: “Dit was die beste dae van my lewe.” Dalk gaan jy tans  deur beproewing en is dit moeilik om te glo dat jy ooit so sal kan voel. Ek verseker jou jy sal! Gedurende moeilike tye het ek geleer om God te vertrou. As dit nie vir my familie was gedurende daardie tye nie, sou ek dit nie gemaak het nie. My besigheid was vinnig besig om bankrot te speel, maar die Here Jesus Christus het ons opgehelp.

In tye van beproewing leer ons om op God te vertrou. Ons leer om nie alles op ons manier te doen nie, maar om te kan sê: “Laat u wil geskied, Here.” Hulle sê dat die uitblinkers in ’n rugby  of sokkerspan nie goeie afrigters uitmaak nie. Dit is omdat hulle bloot net sê: “Dít is die manier hoe dit gedoen word.” En dan gaan hulle voort en doen dit. As die res van die span dit nie die eerste keer regkry nie, dink hulle hulle is onnosel. Somtyds is die beste afrigter iemand wat nog nooit self die spel gespeel het nie, maar hy het geduld en begrip.

Dink aan die twee bome: die populierboom  –  geen swaarkry, geen stres, en geen verdrukking is gelyk aan sag, liggewig, swak en onbetroubaar;  die doringboom – droogte, swaarkry en verdrukking is gelyk aan sterk, swaar, standvastig en betroubaar. Ons gebruik doringboomstompe as hoekpale wan neer ons drade span op die plaas. Hoekom? Selfs die miere en die termiete kan nie deur die harde,  sterk hout vreet nie.  As jy tans deur beproewing gaan,  word vir ’n paar minute stil in God se teenwoordigheid.  Hy is Here van die leërskare en Hy is met jou.

My Vader, U is my toevlug en my sterkte. U is my hulp in benoudheid. Ek vertrou U met my lewe. Ek weet dat U weet wat U met my lewe doen. U genade is vir my genoeg en ek sal nie vrees nie. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie dat ek weet in die tye van swaarkry en verdrukking is ons nooit buite U Goddelike Genade nie…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.