Gedagte vir die dag: Die lewe is ’n geskenk

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. (Prediker 2:24, 26)

’n Verhaal wat ’n mens se diepe tevredenheid en dankbaarheid met dit wat sy eie is pragtig illustreer, is dié van ’n priester wat ’n jongman wat baie siek was, gaan besoek het. Die priester het opreg gebid vir die man wat stadig maar seker besig was om verlam te raak vanweë die siekte wat hom geteister het. Die pasiënt het saam met sy suster en dié se vierjarige seuntjie gebly. Die knapie was blind. Toe die priester vertrek, tel hy die blinde seuntjie op en sê: “Ek sal vir jou ook bid, my arme kind.” Die seuntjie het geantwoord: “Hoekom dan oom, ek kan mos loop!”

Het jy geweet jy kan die lewe geniet al verloop jou dag nie vlot nie en al is die omstandighede waarin jy jou tans bevind nie ideaal of volmaak nie? Soms dink ons ons sal eers waarlik gelukkig wees wanneer alles met ons goed gaan. Ons sukkel om die lewe te geniet want ons voel daar is nog te veel wat tekort skiet. Soos die knapie in die inleiding van die storie moet ons leer om eerder te fokus op wat ons het, en nie op wat ons nie het nie. ’n Onvergenoegde mens sal nooit gelukkig wees nie. Daarom, gryp die lewe wat God jou as geskenk gee met albei hande aan, moenie net bestaan nie, begin Leef!

Moenie alles altyd met oordrewe erns bejeën nie, skop jou skoene uit en loop soms kaalvoet. Dans saam met jou kinders om die eetkamertafel en sit ’n blom in jou hare voor jy werk toe gaan. Dit maak nie saak hoe lank jy lewe nie, wat wel saak maak is hoe jy lewe.

Die Prediker moedig ons in vandag se teksgedeelte aan om ons lewe en dit wat ons doen te geniet omdat dit immers uit God se hand kom. Die lewe is ’n geskenk van die Here en dié wat Hom daarvoor dank en Hom daarin dien, sal die lewe geniet.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

linda limbo ·

baie dankie vir die mooi stukkie, dit het beslis my ♥ aangeraak!
so belangrik in die Kerstyd dat ons dankbaar moet wees soveel ander mense
kry swaarder as ek en jy

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.