Gedagte vir die dag: Dóén God se wil

God-Se-Wil_rainbow-142701_1280.jpg

Argieffoto (Foto: werner22brigitte, Pixabay)

Lees: Matteus 6:9-13

Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel. (Matteus 6:9-10, NLV)

In sy Ons Vader-gebed leer Jesus sy dissipels om te vra dat God se wil in hul lewens sal realiseer. In sy boek Letters to Malcolm maak CS Lewis ’n interessante opmerking: Hy het eers gedink hierdie bede beteken dat ’n mens jou aan God se wil ondergeskik moet stel. Vir hom was hierdie “laat u wil hier op aarde uitgevoer word” (“Let thy will be done”) ’n daad van onderwerping, soos Jesus dan ook in Getsemane gevra het. Maar hy het al sekerder geword dat die werkwoord “done” hier beteken dat óns God se wil moet dóén, deur ons optrede, woorde en dade. Ons moenie net passief toelaat dat God se wil mét ons gebeur nie, maar dit aggressief bemark.

Hierdie standpunt het vir my persoonlik ’n hele nuwe perspektief oor God se wil gegee. Dit was vir my ’n openbaring om te besef dat ek op aarde entoesiasties behoort saam te werk dat God se wil gedoen word, deur verkeerdhede reg te stel; deur ander mense te help en na hulle uit te reik; deur ander mense belangriker te ag as myself, soos Jesus gedoen het; deur sy gesindheid in diens aan ander uit te leef in my elkedagse optrede.

Hoe lyk dit, wil jy dit nie in die jaar wat voorlê saam met my probeer doen nie?

Here, ek wil nie langer net gewillig wees om u wil in my lewe te laat gebeur nie, maar entoesiasties meehelp dat dit in die wêreld geskied. Help my asseblief daarmee. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

lynette ·

Amen . So doen ek voort . Ek was nog nie n dag spyt nie .

Eureka ·

Dankie…..altyd mooi boodskappies….net een vragie….hoekom is u nie U nie?

Mooi daggie
Eureka

Landi Slatter ·

Dagsê Eureka

Dankie vir jou navraag. Die ‘u’, soos in die stuk hier bo, “Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel” word gebruik wanneer die ‘u’ as ’n besitlike voornaamwoord gebruik word. Die hoofletter ‘U’ word gebruik as aanspreekvorm. Hoop dit maak vir jou meer sin.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Muis ·

AMEN Kan ons as mens weer net besef sonder God is ons niks en sonder Hom is ons verlore , ek bid en glo dat daar uitkoms is wanneer dit die nodigste is en dat God nie sluimer of slaap nie, en Sy wil geskied soos dit moet!!! Ons as sondige mens moet op ons kniee bly en dankie se!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.