Gedagte vir die dag: Ek is spyt oor …

watter-pad-om-te-neem

Foto: Argief.

God sal almal wat Hom dien se hand vat en hulle help om die regte keuses te maak. (Psalm 25:12, Die Boodskap)

Brand Pretorius, een van Suid-Afrika se groot leiers, is iemand na wie ’n mens kan opsien omdat hy meer as net ’n ekonomiese verskil in die werkplek maak. Hy is iemand wat gesonde waardes nie net verkondig nie, maar dit lééf. Wat met passie werk, met regverdigheid optree en met insig bestuur. ’n Mens sou glo: die perfekte leier. Die ideale mens. En tog is Brand groots genoeg om in nederigheid ook sy foute te erken.

Toe ’n joernalis hom vra wat hy anders sou wou doen as hy sy lewe kon oorhê, het hy ruiterlik gesê dat hy gesukkel het om gesonde balans te handhaaf. Dat sy werk hom dikwels opgeslurp het en hy dikwels nie daar kon wees wanneer dit vir sy gesin saak gemaak het nie. Noudat hy oor sy loopbaan terugkyk, is hy jammer vir die kere wat hy nie by ’n kind se wedstryd of spesiale geleentheid kon wees nie, wat hy nie daar was toe hulle oë hom dalk gesoek het nie.

As jy in ’n loopbaan staan, doen dit voluit. As jy talente het, leef dit met passie uit. Maar probeer om te alle tye te onthou wat regtig saak maak. Probeer om jou prioriteite daar rondom te rang skik. Om “nee” te sê waar jy nie nodig is nie sodat jy “ja” kan sê vir die mense wat jou nodig het.

Vader, wys my wat régtig saak maak en help my dit doen, asseblief.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.