En die ster wat hulle in die ooste sien verskyn het, is weer daar … Met dié dat hulle die ster sien, het ’n wonderlike blydskap oor hulle gekom. (Matteus 2:9-10)
Dink net hoe groot was die wyse manne se blydskap om Jesus self te sien as hulle blydskap so groot was net om die ster te sien wat hulle na Hom toe sou lei! Toe hulle die Messias vind, val hulle “voor Hom neer en aanbid Hom” (Matteus 2:11).
Maria, Elisabet, die skaapwagters, die engele, Simeon en Anna was oorstelp van vreugde oor die Messias se koms, en Johannes wat nog nie eens gebore was nie, het in die baarmoeder van vreugde beweeg in Jesus se teenwoordigheid (Lukas 1:44).
Dit is dieselfde Jesus wat die bron van ons ewige blydskap is. Aangesien hierdie mensgeworde God, wat beloof het dat Hy altyd by ons sal wees, nou deur sy Gees in ons woon, het ons sekerlik nog meer rede om vreugde te ervaar!
Jy is geskep vir die onvergelykbare vreugde wat jy slegs kan ervaar as jy Jesus ken. Slegs dan, in Hom, sal jy die lewensveranderende, sielsbevredigende vreugde ervaar wat God, in sy heerlikheid, geskep het vir jou om te geniet. – Sam Storms