Gedagte vir die dag: Algehele oorgawe

196557_27191 Kon 20:40 – “Ek en alles wat myne is, behoort aan u”.

” ‘n Sagte antwoord keer die grimmigheid af,” het koning Salomo lank gelede geskryf (Spr 15:1, 1933-vertaling). Dit klink asof koning Agab daaraan gedink het toe Ben-Hadad (die seun van die Ben-Hadad wat destyds vir koning Asaf gehelp het) met sy 32 onderdanige konings by Samaria opdaag. Hulle was so ‘n oormag dat Agab besef het hy het nie juis ‘n kans om ʼn aanslag die hoof te bied nie. Hy gee dus maar die sagte antwoord, in die hoop dat die vyandige koning hom dan met respek sal behandel. Maar Ben Hadad was vol bravade, en hierdie antwoord was nie vir hom genoeg nie. Hy maak sy eise dus nog meer aanstootlik. Hy soek moeilikheid. Dit is altyd baie sleg as ‘n boelie jou bedreig. As jy weet jy het nie ‘n kans om hom baas te raak nie, is dit maar die veiligste om bes te gee. Dis mos wat boelies soek. Maar dit is nie ‘n langtermyn-oplossing nie. En as iemand uiteindelik weerstand bied en die boelie regsien, dan juig al die ander. Daar is egter ook ‘n ander soort oorgawe. Dit is om te besef dat jy self ʼn gemors van jou lewe gemaak het. Jy het mense seergemaak. Jy was selfsugtig. Jy het jou wil op ander probeer afdwing. Jy het selfs gedink jy kan God beheer en Hom vertel wat om te doen. Dan kom daar ‘n punt in jou lewe waar jy besef jy is in ‘n doodloopstraat. So kan jy nie aangaan nie. Jy moet op jou knieë gaan en jouself onvoorwaardelik aan die Here oorgee. En dit is wat die Here van elkeen van ons verwag. Eers dan kan Hy met ons werk.

Gebed: “Here, ek en alles wat myne is, behoort aan U”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.