Gedagte vir die dag: Besing die lof van Jesus saam

kneel-before-the-crossFilippense 2:9-11 – Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Eerwaarde EP Scott was ‘n sendeling wat in die 1800’s in Indië gewoon het. Die volgende storie oor hom word vertel. Eendag het hy ‘n man ontmoet wat heeltemal anders gelyk het as enige persoon wat hy al voorheen in die deel gesien het. Hy het begin rondvra en is toe meegedeel dat dié man van ‘n stam is wat diep in die berge woon en wat net een keer per jaar die dorpie besoek om handel te dryf. Hierdie mense het nog nooit die evangelie gehoor nie.

Ten spyte van sy vriende se waarskuwings het Scott alleen vertrek om dié stam te gaan besoek. Na hy ‘n paar dae op reis was, is hy in ‘n lokval gelei en is hy gou-gou deur ‘n klompie krygers omsingel met hulle spiese wat na sy hart wys. Daar was geen kans om te ontsnap nie. Scott het sy viool uitgehaal, sy oë gesluit en begin om die volgende woorde te sing in ‘n inheemse taal wat die krygers kon verstaan:
Besing die lof van Jesus saam,
ook eng’le bring Hom eer.
juig hemel, aarde, roem sy naam
en dien Hom, volg Hom, loof Hom
Christus is dié Heer!

Nadat hy die eerste, tweede, derde en vierdie vers gesing het, het hy besef dat hy steeds staan. Toe hy sy oë oopmaak, het hy tot sy verbasing gesien dat die krygers hulle spiese laat sak het en daar staan die magtige krygers, met trane in hulle oë.

Die lirieke van hierdie lied wat Scott gesing het, is deur Edward Perronet geskryf en vir die eerste keer in die November 1779-uitgawe van die Gospel Magazine gepubliseer. Terloops, Augustus Toplady, die skrywer van “Rock of Ages”, was die redakteur van die tydskrif.

In die verskeie strofes van Edward Perronet se lied word verskillende groepe mense opgeroep om Christus te loof. Hy laat niemand uit nie – van die “nageslag van Israel” tot “volkere, opreg en wys” moet erken Christus is die Heer.

Jy wat nou hier lees en die teksvers uit Filippense asook hierdie lied oordink, vra jouself die vraag: “Loof en prys ek Hom soos Hy verdien om geprys te word? Volg ek die voorbeeld van eerw Scott na en verheerlik die Naam van Jesus deur my lewe en my getuienis?”

Gebed: Alle lof en eer aan die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dankie Here Jesus. Gee dat die ganse Skepping u Naam sal verheerlik. Trek ons nader aan U en help ons om U vir ewig te loof en prys. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.