Gedagte vir die dag: Die wonderwerk is in jou hand

Teks:Hulle sê toe vir Hom: ‘Ons het hier net vyf brode en twee visse.’ ‘Bring dit vir My hier,’ sê Hy.” (Matt 14:17–18)

Die dissipels staan voor Jesus met hierdie skamele kosvoorraad in hulle hande – twee vissies en vyf broodjies. Geheel en al ontoereikend in die lig van die skare honger mense. ​Daar is iets uiters belangrik wat ons hier moet opmerk: Die middele tot die wonderwerk wat spoedig sou volg, was reeds in hulle hande! Ja, Jesus was in staat om uit niks vir die hele skare genoeg voedsel te skep. Hy is immers God. Tog verkies Hy telkens om die bietjie wat óns kan bied, te gebruik om ʼn wonderwerk te doen. Dink aan die verhaal in 2 Konings 4:2–3 oor die weduwee se olie wat nie wou opraak nie. Op Elisa se vraag: “Wat het jy in jou huis?” het sy geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe ’n erdekannetjie olie.”

Die vraag aan my en jou vandag is: Wat is in jou huis? Wat is in jou hande? Ons is so geneig om elders na ʼn wonderwerk te gaan soek terwyl die saad, die kiem, die oorsprong van die wonderwerk reeds in óns hande is. God kan vir seker sonder my en jou werk. Hy kan vir seker ʼn wonderwerk doen sonder die bietjie wat ons kan bied, maar Hy wil my en jou by die wonderwerk betrek. Hy wil ons deel daarvan maak. Dit is egter so dikwels net hier waar die probleem lê. Ons bring nie ons bietjie na Hom toe nie. Ons stel dit nie tot sy beskikking nie.

Hoor die Woord van die Here vandag vir jou lewe: Dis goed om te besef hoe gering jy is. Dis reg om beskeie te wees oor wat jy het om te bied. Maar bring dit tog na Jesus toe. Gee dit onvoorwaardelik in sy hande oor, want dáár begin die wonderwerk.

Gebed: Gebruik asseblief dít wat ek U kan bied om ʼn wonderwerk te doen, Here Jesus. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger, President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.