Gedagte vir die dag: “Dogter…”

Mark 5:34: “Daarna sê Hy vir haar: ‘Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!’”

Twaalf jaar lank is hierdie vrou as ’n uitgeworpene behandel, is sy sosiaal en godsdienstig uitgeban. Niemand wou naby haar kom nie. Onrein, ongeneeslik, ’n verleentheid. Die toppunt van verwerping! Maar dan praat Hý met haar – die Messias, die Seun van Dawid, die almagtige God. En Hy sê vir haar: “Dogter …” In die grondtaal is dit nie ’n verkleinerende term nie. Onthou, sy was dalk ouer as Jesus. Nee, hierdie aanspreekvorm is deur ’n koning of ’n hooggeplaaste gebruik wanneer hy iemand van die teenoorgestelde geslag met deernis, liefde en welwillendheid aangespreek het: “Dogter …”

Vir iemand wat so lank verwerping ervaar het, moet hierdie teer woord vol liefde en omgee soos die balsem van Gilead vir ’n gebroke hart, soos olie op wonde, soos water op dorstige lippe gewees het. “Dogter …” En dit nogal van Hóm, die Seun van God, die Almagtige. Soveel liefde; soveel teerheid. Nog nooit het iemand só met haar gepraat nie. Ons wonderlike Here!

Só het Hy ook gepraat met die verlamde man wie se vriende hom deur die dak van ’n huis tot voor Jesus laat sak het (Mark 2:5). Vir hierdie man wat weens sy verlamming met skuldgevoelens oor sy sonde geteister is, het Jesus gesê: “Seun, jou sondes is vergewe.” Seun … God is nie kwaad vir jou nie.

“Dogter, jou geloof het jou gered” (Mark 5:34). Kan jy nou verstaan waarom Jesus haar nie met net liggaamlike genesing wou laat weggaan nie? Sy het meer as liggaamlike genesing nodig gehad. Sy het die Geneesheer self nodig gehad! Hy wou haar as totale mens genees. Daarom kan Hy nou ook vir haar sê: “Gaan in vrede.” Die woord vrede (shalom), beteken “heelheid vir die totale mens”. God wil ons “heel” mense maak.

Dis Jesus se spesialiteit – om mense heel te maak.

 Gebed: Here, ek hoor U ook vir my sê: “Dogter” … “Seun” … Dankie, Here. Amen.

 Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.