Gedagte vir die dag: In SY naam

Teks: Luk. 7: 14: “En Hy sê: ‘Jongman, Ek sê vir jou, staan op!’”

Verbeel jou jy was een van die mense in die skare wat daar by die poort van Naïn staan en kyk. ʼn Lyk op ʼn draagbaar. Jesus wat daar neffens staan. Jy kan ʼn speld hoor val. Dan hierdie gebiedende woord van Jesus. Hy eis van die dood om terug te gee wat hy as sy prooi gegryp het.

“Jongman, Ek sê…” Hy spreek soos altyd in Sy eie naam. Die groot “Ek is” het nie nodig om dit in ʼn ander se naam te doen nie. As jyself die Prins van die lewe, die bron van alle lewe is, wat die sleutels van die doderyk en die dood het, kán jy so praat.

Daar is net Een wat dit in Sy eie naam kon doen, want: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” (Mt. 28: 18)

Sy apostels het ook groot wonderwerke gedoen, ja, self ook dooies opgewek. Hulle het dit egter telkens in Sy naam gedoen. Dink maar aan die woorde van Petrus aan die verlamde by die Skone Poort in Hand. 3:6: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

Ek bid ook gereeld vir mense in krisisse en wat siek is. By geleenthede moes ek ook al demone uit mense dryf. Ek en elke ander Christen kan dit alleen doen in die Naam van Jesus, want hierdie Naam is vir ons gegee om volgens Sy wil en met Sy gesag op te tree. Hy het immers self in Joh. 14:13 gesê: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

As jy vandag ook nodig het om oor ‘n probleem of krisis in jou lewe te bid, doen dit met vrymoedigheid, maar in diepe afhanklikheid. En doen dit in die Naam van Jesus!

Gebed: Dankie dat ek ook vandag in U Naam kan vra… Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.