Gedagte vir die dag: ‘n Aanraking wat anders is

Mark 5:31:Sy dissipels het Hom geantwoord: U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

Oppad, en met ‘n skare mense wat Hom volg, was die vraag van Jesus se dissipels aan Hom eintlik baie logies, ’n “gesonde-verstand”-vraag: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

Dis waar, baie mense hét aan Hom geraak. Maar daar was één wie se aanraking anders was – ’n vrou wat uitgemergel was ná twaalf jaar se siekte. ’n Vrou wat desperaat was. ’n Vrou wat geen ander opsies meer oor gehad het nie. ’n Vrou wat oor elke struikelblok geklim en deur elke grens gebreek het. Iets aan haar, iets in haar wese, iets in haar gesindheid, het reggekry wat al die ander nie kon regkry nie – sy het kontak gemaak met die krag van God; sy het deurgebreek; sy het Jesus se krag ontsluit; sy het ’n wonderwerk ontlok.

Hoe dikwels sien ons dit nie in ons dag nie: Twee mense sit in dieselfde kerk, in dieselfde erediens. Die een gaan weg met ’n ervaring van die liefde en aanraking van God; die ander een is onaangeraak. Twee mense is in dieselfde omstandighede – die een ervaar die hand van die Here; die ander een beleef niks.

Wanneer ek die verhaal van hierdie vrou lees, is dit vir my duidelik dat daar iets in sommige mense is wat anders is, ’n ander gesindheid, ’n ander ingesteldheid – iets wat Jesus se aandag trek. Talle het Hom immers aangeraak. In Sy mensheid het Hy nie eens vooraf geweet hierdie vrou sou Hom aanraak sodat Hy kon besluit om haar te bevoordeel nie. Nee, dit was die geloof in haar wat die krag van God in haar lewe ontsluit het.

Gebed: Here, ek bid vir ’n hart en gesindheid wat u krag ook in my lewe sal ontsluit. Amen.

 Outeur: Dr Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.