Gedagte vir die dag: Wees lief vir mekaar

 hartJohannes 13: 14-15 – As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

Jesus verneder Homself deur die werk van ‘n slaaf te doen. Hy was die voete van sy dissipels. Die rede hiervoor is dat Hy hulle wil wys hoe ware liefde lyk. Ware liefde is bereid om op te offer en te dien. Jesus gee ook dan aan hulle die opdrag: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (v34-35)

Die dissipels verstaan nog steeds nie heeltemal wie Jesus is en wat gaan gebeur nie. Judas gaan in die donker nag uit (v30) om Jesus te gaan verraai en Petrus hoor dat hy Jesus drie maal sal verloën voordat hierdie nag verby is.

Hoe kon die arme dissipels ook verwag het dat hierdie groot Leermeester van hulle, baie groter en meer is as wat hulle op hierdie stadium kon insien? Hoe kon hulle voorsien dat Hy die pad van lyding ook deur die dood sou stap? Hierdie wrede dood aan die kruis.

Eers later sou hulle besef wat die betekenis van Jesus se woorde en dade was. Eers na sy opstanding sou hulle besef dat Hy meer is as wat hulle ooit kon dink.

As Jesus wat die Koning oor die Heelal is, bereid was om ook ons voete te was, in ons plek te dien en te ly, kan ons mos nie anders as om sy voorbeeld van liefde te volg nie. Kom ons gaan kyk vandag waar ons iemand anders met liefde kan dien. Kom ons probeer om ons idee van onsself en ons eie posisie of gesag, so bietjie eenkant toe te skuif en ook onder die nood van iemand anders in te buk. Ons kan nooit vir Jesus naboots en presies soos Hy probeer wees nie, maar ons word deur Jesus self opgeroep om sy voorbeeld van liefde teenoor mekaar en ander mense te volg.

Hierdie liefde sal ons grootste getuienis teenoor die wêreld wees sodat ander ook tot dissipels van die Here geroep kan word.

Gebed: Here Jesus, baie dankie dat U bereid was om Uself te verneder en die gestalte van ‘n mens aan te neem. Dankie dat U bereid was om in ons plek te lewe, te ly en te sterf, sodat ons saam met U kan opstaan. Help ons om u voorbeeld van dienende liefde te volg. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.