Gedagte vir die dag: Werk in my, Gees van God

shutterstock_69696070-man-with-open-arms-705x335Esegiël 37:9-10: Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe. Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ‘n baie groot menigte.”

Esegiël se weergawe van die laagte gevul met droë bene is een van die treffendste gedeeltes in die Ou Testament. Esegiël beskryf hoe hy binne-in ‘n laagte gevul met droë bene gestaan het. Die Here vra toe vir hom: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” Hy beskryf dan die kragtige werking van God wat hierdie bene weer met vleis en vel bedek. Die wonderwerk is egter eers voltooi wanneer die Gees van God lewe in hulle blaas.

Ek wonder of Edwin Hatch aan hierdie gedeelte in Esegiël gedink het toe hy die Engelse lied “Breathe on me, Breath of God” geskryf het. Die Engelse woorde lui soos volg:
Breathe on me, Breath of God,
Fill me with life anew,
That I may love what Thou dost love,
And do what Thou wouldst do.

Ek het ook ‘n pragtige Afrikaanse vertaling deur Marianne Viljoen raakgeloop:
Werk in my, Gees van God,
Skenk my ’n lewe nuut
Dat ek kan liefhê soos U sê
En doen wat U my gebied.

Hierdie lied is ‘n gebed. Elke strofe begin met “Werk in my, Gees van God.” Esegiël se verhaal, sowel as hierdie lied herinner my daaraan dat God ons gemaak het, hoe Hy “die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het. (Genesis 2:7). Dit herinner my ook aan Jesus wat oor sy dissipels geblaas het en toe gesê het: “Ontvang die Heilige Gees!” (John 20:22).

Ons benodig die Heilige Gees, die Gees van God wat in ons leef, wat ons lei, ons inspireer, ons help om te leef soos die Here wil hê dat ons moet leef. Kom ons bid dat die Gees in ons sal werk en ons met nuwe lewe sal vul.

Gebed: Here, laat u Gees in my werk en my help om U te dien. O Gees van God, werk in my sodat ek kan doen wat U van my vra. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir die inspirasie – die volgende het by my opgekom:

Psa 51:11 (51:13) Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.