Gedagte vir die dag: God gebruik die gebrokenes

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! (1 Petrus 5:9-10)

Petrus verseker sy lesers dat die lyding wat hulle moes verduur, ook “opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is”. As mense nog nie lyding of swaarkry ervaar het nie, kan hulle baie veroordelend en ongenaakbaar wees. God gebruik niemand vir groot dinge voordat hulle nie eers gebroke is nie. Van Adam en Eva af, regdeur die Bybel, sien jy dat mense gely het. Soms was dit as gevolg van hulle eie mislukkings en sonde. Ander tye was dit die striemende werk van God in hulle lewens.

Baie van hierdie manne en vroue word by name in die boek Hebreërs genoem; ander word kollektief na verwys as “’n groot wolk van getuies” (Hebreërs 12:1). Hierdie getuies is nie alleen Bybelse karakters nie, maar ook die mense wat deur die eeue heen in alle omstandighede getrou gebly het aan God. Daar is een ding wat almal in gemeen het, ongeag wanneer hulle geleef het: ’n diepgaande, blywende verbintenis met Jesus Christus, ten spyte van wat hulle hier op aarde moes verduur.

As jy besin oor die afgelope jaar en jy kyk na wat tans in jou lewe aangaan, vra jou af: “Kom ek die mas op?” As jy kla en mor oor jou lot en wat tans in jou lewe gebeur, staan jy nie vas in geloof nie. Ons moet ons verootmoedig voor God en sy wil vir ons lewens aanvaar. Petrus sê: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6-7). Die regte tyd beteken sý tyd. Intussen moet jy sterk staan in geloof. Jy kan ook die Goeie Nuus van God se liefde deel met dié wat ly of swaarkry. Laat God toe om jou te gebruik om ander te bemoedig. Selfs al ly jy, kan jy steeds ’n getuie van God se goedheid vir ander wees.

My Vader, ek wil vasstaan in geloof. Ek wil nie iemand wees wat kla en mor en die vyand ’n houvas op my lewe gee nie. Help my om altyd vreugdevol te wees. Help my dat ek nie op my eie pyn fokus nie, maar help my om ander te seën en aan te moedig. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U wat my beter ken as wat ek myself ken dat U belowe om altyd by my te wees deur die werking van die Heilge Gees….tot in alle ewigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.