Gedagte vir die dag: God gee volmaak

 hands-105455_1280.jpg

Argieffoto (Foto: Blanka, Pixabay)

Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. (Jakobus 1:17)

Voel jy vandag mismoedig, afgeskeep en alleen? Ek gee toe, ek ken nie jou omstandighede nie.

Maar as jy hierdie woorde self kan lees, is jy bevoorreg. Jy het tyd om te lees, jy het oë, jy kan sien en jy het geleer om te lees. Boonop kan jy die woorde interpreteer en met my saamstem of nie. Miskien het jy ’n pen of potlood byderhand waarmee jy aantekeninge maak. Dus kan jy skryf ook. Dalk sit jy iewers in die son. Die lig skyn presies waar jy dit wil hê. Buite pluk die wind aan kaal boomtakke, maar hier by jou is dit snoesig warm. Of dalk woon jy in ’n winterreënvalstreek en dis vandag nat en vaal, maar die vuur in jou kaggel brand hoog. Die kinders is skool toe, die stilte is volmaak.

Nee, jy moes vanoggend gans te vinnig uit die bed klim, stort en aantrek en in die kar spring om betyds by jou werk te wees – sestig kilometer verder. Die dag was te besig en te uitputtend om stil te word, hoewel jy tientalle skietgebedjies opgestuur het. Dis laataand net voor jy jou bedliggie afskakel en jou Bybel nadertrek, die boekie ook. Miskien kry jy tog iets om oor na te dink, iets wat jy vandag in die hitte van die stryd vergeet het – jou voorregte.

Die meeste van ons sukkel om te oorleef en raak soms moedeloos en blind vir die gawes wat ons wel het – soos liefde om te ontvang en uit te deel, ʼn huis, klere, kos en water. Dis reg, ek ken nie jou omstandighede nie, maar die Here ken jou. Alles wat goed is in jou lewe kom van Hom. Elke volmaakte gawe kom uit sy hand.

Hemelvader, u goedheid is genoeg. Soms moet ons net gaan stilstaan, rondom ons kyk en ons seëninge begin tel. Dankie, Here, dat U my vandag daaraan herinner.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PJ ·

Dankie Vader vir U liefde en genade op genade. Ek loof U en prys U tot in ewigheid.
YAHSHUA leef.
Halleluja.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.