Gedagte vir die dag: God is altyd daar

En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe. (Hebreërs 10:38-39)

Daar is ’n verhaal van ’n man wat in die woestyn verdwaal het – nadat hy veilig terug by sy huis was, het hy sy vriende van sy vreesaanjaende belewenis vertel: “Ek het gedink ek gaan sterf,” het hy gesê, “ek het net daar in die warm sand neergeval en met my brandende bors en droë keel vir God gevra om my lewe te red.” “Het God jou gered?” het sy vriende gevra. “Nee,” antwoord die man, “gelukkig het daar ’n landmeter verbygekom en hy het my gered.”

Hierdie staaltjie herinner ons om God se hand in ons lewe raak te sien. Dikwels kla ons dat Hy nie in ons lewe betrokke is nie, maar ons weier om ons geestesoë oop te maak en Hom werklik te sien of te herken.

Om te glo is om terug te kyk en vorentoe te kyk. Dis om te onthou hoe God daar vir ons in die verlede was en dan seker te weet dat Hy ook daar in die toekoms sal wees. Geloof behels dat ons ons vertroue stel op dit wat Christus reeds gedoen het en ook dat ons ons hoop vestig op dit wat Hy nog in die toekoms gaan doen. Volharding is om die wil van God te doen en dan uiteindelik te ontvang wat Hy beloof het.

Elke dag moet ons oor en oor vir God kies, kies om in sy wil te bly wandel en nie af te dwaal nie, kies om Hom te behaag en sy Woord ons rigtingswyser te maak. Natuurlik is dit nie altyd maklik om in ons geloof te volhard nie en soms raak ons moedeloos en wil tou opgooi. Dan moet ons onsself aan die kere herinner toe God ons deur moeilike tye gedra en getroos het toe ons gehuil het. Hy was daar vir ons in die verlede en sal ook in die toekoms daar wees want Hy is die Ewige God wat gister, vandag en môre dieselfde is.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Liewe Heer vandag is Belangrik dag ek glo en vertrou U gaan my deurdra met onderhoud want U het net die beste in gedagte vir my ek dank U en loof amen

Lena Jonk ·

Ons God sal gee wat Hy beloof het maar ons Geloof is baie klein daarom raak ons ongeduldig en wil dit dadelik gedoen he. Geloof kos geduld en volle vertroue in ons Almagtige Vader.

jannie ·

So waar……Vergeef ons ons sondes en frustrasies en ongeduldigheid O HEER.

Von ·

Dankie Here dat ek verseker weet dat U ons vas hou in die stukkende wereld….U beloftes is die waarheid

Jaco ·

I’ll walk with God
I’ll take his hand
I’ll talk with God, he’ll understand.
I’ll pray to him
Each day to him
And he’ll hear the words that I say
His hands will guide my throne and rod
And I’ll never walk alone
While I walk with God.

Marinda ·

God is altyd daar vir ons. Hy hou ons hand vas deur dik en dun. Dis ons wat Sy hand los.

Dankie Vader dat U my deur hierdie laaste jaar gedra het, deur die dae wat ek ook sommer net my ID wou in gee en op gee. Deur U genade is ons deur die drif.

Andrea ·

Dankie, Here, dat U elke dag vir my daar is, en my vandag uit groot benoudheid gered het.

Mynah Randall ·

ons moet net elke oggend sê vandag is die dag wat God gemaak het en ons daar in verbly en die Here se leiding volg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.