Gedagte vir die dag: God is by jou al voel dit nie so nie

 ligtoring_4_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ’n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my. (Psalm 63:7-9)

Soms voel dit vir ons of God nie by ons is nie, of Hy ons heeltemal alleen gelaat het of selfs van ons vergeet het. As jy vandag so voel wil ek jou verseker dat God wel by jou is, moenie dat jou gevoel jou mislei nie. In sy Woord belowe Hy ons dat Hy ons nooit alleen sal laat nie. Jesus het verlate aan die kruis uitgeroep: “My God, my God waarom het U My verlaat?” sodat ons nooit daardie woorde hoef te uiter nie. Ja, God is waarlik Immanuel wat beteken “God met ons”.

In vandag se teksgedeelte juig die psalmdigter oor die feit dat God hom nooit verlaat nie, hy verklaar dit is God wat hom beskerm, dit is net by God waar hy waarlik veilig voel. Hy prys die Here met ’n loflied vir wonderlike gawes uit sy hand. Saam met ander gelowiges eer hy die Here, want ondanks sy huidige ontberings weet hy die Here beskerm hom en dat Hy daarom ook in sy nood by hom is.

Weet verseker God is by jou, selfs wanneer jy deur bitter moeilike tye gaan – Hy is by jou selfs al voel dit nie so nie. Hy sal jou nooit alleen laat nie, Hy is altyd naby jou. Soveel keer hoor ’n mens dat kinders van die Here na ’n hartseer en moeilike seisoen van hulle lewe bely hulle sou nooit daardeur kon kom as dit nie vir God was wat hulle daardeur gedra het nie. In die prosa Voetspore vra die digter vir God as hy terugkyk oor sy lewe waarom daar net een ry voetspore in die sand was toe dit met hom swaar gegaan het. Hy kon nie verstaan waarom God hom juis nie in moeilike tye op sy lewenspad vergesel het nie. Toe antwoord God hom: “Dit is omdat Ek jou deur daardie tye gedra het dat jy net een ry voetspore sien.”

Danksy ons verbintenis met die Here bly ons staande in tye van swaarkry. Sy genade is vir ons genoeg, daarom kan ons soos die psalmdigter ons verheug in God, Hy gee ons baie redes om Hom te prys.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Dankie , dis wonderlikke woorde. Eerder die pad van swaarkry saam met die Here, as om die valse welvaart van die sekulêre wêreld te ervaar. Hiermee sê ek glad nie dit moet net altyd met ware gelowiges sleg gaan nie, dit is wanneer swaarkry oor jou pad kom, dan is dit beter om die pad saam met die Here daardeur te stap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.