Gedagte vir die dag: God skep die mens

familie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Genesis 1:26-31

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Genesis 1:27)

Korreltjie sand, dig Ingrid Jonker oor die mens. ’n Bietjie sterstof, verklaar Gideon Joubert (Die groot gedagte, Tafelberg, 1997). Dis die mens, deur God geskep. Joubert sê: “Die grootste wonder van die Skepping het gebeur met die ontstaan en ontwikkeling van ingewikkelde molekulêre samestellings wat ’n verskeidenheid van gespesialiseerde organe vorm, wat saamspan om die gevorderdste selle aan die lewe te hou: die menslike brein.”

Verseker voldoen Adam en Eva nie aan die verheerlikte prentjies van kunstenaars en Kinderbybels nie. As uitgeworpenes in die wildernis, sou hulle in velklere en met wild groeiende hare in ’n grot geskuil het. Hulle sou vooroor loop, sodat hulle oë deur stikdonkerte of deur digte wildernis kon priem, om ’n syfering van water raak te sien, of ’n klip op te tel om kleinprooi te dood of roofdiere af te weer. Maar wat belangrik is: Hulle het nie, saam met die paradys, hulle beeldskap verloor nie. Die mens blý na die beeld van God geskep, sy verteenwoordiger. God se “beeld” in ons beteken ewenwel nie dat Hy ons as ’n kloon van Hom geskep het, of marionette van ons gemaak het wat Hy met innerlike, geestelike toutjies beheer nie. Saam met sy beeld het Hy die goddelike vryheid in ons ingebed, om te kan kies of en hoe ons sy pad van vryheid wil loop.

Ons is nóú hier, en ons lyk soos ons nóú lyk, ongeag hoeveel skeppingskundigheid dit voorafgegaan het. Wat tel, is hoe ons teenoor mekaar optree. Die groot oortreding is nie om die verkeerde skeppingsteorie aan te hang nie, maar om iemand anders, elmboog-naby, in die ongelyk te probeer stel. Stel jou voor dat Jesus sou sê: “Salig is dié wat weet hoe die eerste mense gelyk het.” Wel het Hy gepraat oor “mekaar liefhê soos jouself”.

Gebed: Here, U het die mens goed gemaak, en hom boonop die luukse van vrye keuse gegee. Dis ’n gevaarlike pad, maar dankie dat U ons daarmee vertrou.

Bron: God se pad van vryheid deur Engela Linde
Uitgewer: Lux Verbi

Die e-Boek is beskikbaar by Kobo en Amazon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.