Hy versorg sy kudde soos ’n herder. Die lammers maak Hy bymekaar in sy arms, en dra hulle naby sy hart. Skaapooie met lammers versorg Hy. (Jesaja 40:11)
Dalk het jy as ouer al saam met die psalmskrywer uitgeroep: “My voet gly!” (Psalm 94:18). Net om ’n mens se kinders halfpad ordentlik groot te maak, voel soms soos ’n onbegonne taak – omdat jy self partykeer soos ’n hopelose voorbeeld van ’n “ordentlike mens” voel.
Die Herder lei jou én jou kinders. Probeer om jou perfek sio nistiese neigings te laat staan. Luister na al die beste raad tot jou beskikking en volg dan jou instink. Onthou dat skuldgevoel slegs geoorloof is wanneer jy gesondig het. Jy doen waarskynlik jou allerbes en eendag sal jy terugdink aan hierdie tye en dink: “Ek sal dit alles weer presies net so doen!” Wees van dag ’n bietjie minder hard op jouself (en op jou skapies). In watter weiveld julle julle ook al bevind – geniet die sagte groen gras onder julle voete.
Oorwin die baba-blues
Tot 30% van nuwe ma’s ontwikkel postnatale of postpartum depressie – wat ernstig inmeng met jou vermoë om na jouself en jou baba om te sien. Die skielike hormoonveranderings, bloeddrukskommeling, wisseling in die werking van ’n vrou se immuunstelsel en metabolisme ná swangerskap kan snellers wees vir postpartum depressie. Die simptome is buite jou beheer. Dit maak nie van jou ’n slegte ma nie. Hoor weer: Dit maak régtig nie van jou ’n slegte ma nie. Waaroor jy wel beheer het, is of jy behandeling hiervoor gaan kry. Moenie enige tyd mors nie: Kry hulp – vir jou én jou kind se onthalwe.