Gedagte vir die dag: Here, hoor my gebed!

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

As julle egter na My toe terugkeer en my bevele gehoorsaam, sal Ek julle terugbring na die plek waar Ek verkies dat julle My moet aanbid, al is julle oor die uithoeke van die aarde versprei. (Nehemia 1:9)

Jerusalem, wat “fondament van vrede” beteken, die hoofstad van God se uitverkore volk, lê in puin. Die volk is ballinge en slawe in ’n vreemde land. Dit lyk of God nie net sy volk verstoot het nie, maar hulle ook verwerp het. En hulle het dit verdien, want hulle het Hom eerste verwerp.

Maar een man, Nehemia, het nog geglo. Hy het geweet God sou nooit sy beloftes vergeet nie. Daarom het hy tot God geroep om te onthou.  In Nehemia 1 herinner hy God aan sy karakter as die Een wat sy verbondsliefde tot in ewigheid sal betoon (v. 5).  Dan bely Nehemia die sonde van sy volk en erken dat dit hulle eie skuld is dat hulle in hierdie situasie sit (v. 6-7).  Laastens herinner hy God aan sy spesifieke belofte – selfs al was die volk ontrou en al was hulle nou onder die nasies verstrooi, sou God hulle vergewe en herstel die oomblik dat hulle berou toon. Ons weet uit die res van die boek Nehemia dat God geantwoord het op Nehemia se gebed en getrou was aan sy belofte om sy volk na hulle land terug te lei.

Dit is vir ons ’n baie goeie voorbeeld van ’n gebed. Wanneer ons in ’n hooplose situasie is, is die heel beste wat ons kan doen om na die almagtige God te draai en Hom te vra om ons te help. Soos Nehemia, kan ons ons beroep op God se karakter en sy beloftes; ons kan onsself herinner aan die soort God wat Hy is en hoe Hy nog altyd vir ons gesorg het. En dan kan ons ons sondes bely, waarop God sy deernisvolle liefde en vergifnis oor ons sal laat vloei.

Dink, o Here, aan u liefde en medelye, van altyd af deur U bewys. – Psalm 25:6

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U bloed ons skoonwas…U genade is groot en onverdiend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.