Gedagte vir die dag: Is daar nog hoop?

rus-by-God

Foto: Tearsinabottle.wordpress.com/Royalty-Free/Corbis

Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop. (Psalm 39:8)

Dawid is moedeloos en moeg en gaan gebukkend onder sondebesef. Hy wou geduldig sy lot aanvaar en sy laste dra, maar dit raak net eens te veel. Hy is tot sterwens toe uitgeput en kom tot die slotsom dat niks wat hy op aarde gedoen het, saak maak nie. ‘Die mens leef soos in ’n droom en hy sloof hom af vir niks’ (Psalm 39:7).

As Dawid wat so sterk en gelowig was dat hy Goliat verslaan het en later een van die grootste konings van Israel geword het, so kan voel, hoeveel te meer ek en jy? As Dawid wat so talentvol en musikaal was dat hy honderde Psalms gekomponeer en gespeel en gesing het, so kan voel, hoeveel te meer ek en jy?

Maar Dawid kyk terug op tye toe hy sonder God was; toe hy voor Saul en voor sy eie seun Absalom moes vlug, die kere dat hy gesondig het en die Here profete gestuur het om hom te bestraf en sy straf aan te kondig. Hy is oud en vol pyne en sy lewe lyk soos ’n mislukking. ‘Is daar nog hoop vir my, Here?’ vra hy en ons ook.

Ja, daar is. En die Here steek die vuurtjie aan, juis wanneer ons hartseer is en vrae vra en uitreik na Hom. Dis dan dat Hy ons laat besef dat ons net een hoop het – die Here wat ons trane sien, ons sondes vergewe en ons kroon met nuwe hoop vir die toekoms, selfs al lyk dit vir ons of ons lewe nutteloos verby is. Hy is ons hoop en niks wat ons op aarde kan vermag of versamel, is groter as die hoop wat ons in Hom ontvang nie.

Die lewe is kort. Maak vandag tyd om hierdie boodskap vir iemand wat jy liefhet, aan te gee.

Here, help ons om die vlam van hoop brandend te hou.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

E ·

ń Mosterdsaaitjie grote van geloof, is al wat dit vat.
Sy genade is genoeg.

Katie ·

Hoe wonderlik dat ek weet daar is altyd hoop om nie te kan glo in hoop nie dan is die lewe reeds vir jou verby.
Hoe kan ek hierdie boodskap vir iemand vanaf my smartfone stuur. Ek wil dit met iemand deel .

Landi Slatter ·

Dagsê Katie,

Dankie vir jou navraag. Stuur gerus vir die persoon die URL (die adres) van die artikel aan of druk op die “deel”-knoppies op die artikel om dit via e-pos, WhatsApp of sosiale media (Facebook of Twitter) te deel.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Cobus ·

Daar is hoop vir ons volkie as ons terdeë na Sy Stem luister. Anders nie…. (lees DEUTERONÓMIUM 28 in Ou Vertaling 1933/1953 met ‘n ontledende oog)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.