Deur so teen die broers te sondig en ’n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. (1 Korintiërs 8:12)
Die gewete is ’n Goddelike gawe aan mense wat hulle tussen reg en verkeerd leer onderskei, maar ’n gewete kan deur sonde verlam word. Gister het ons oor ’n gebrand merkte gewete gepraat, maar vandag wil ons oor ’n swak gewete gesels. Dit is ook nie die ideaal nie, alhoewel dit beter is as ’n toegeskroeide gewete.
’n Swak gewete is een wat nie oor die regte inligting beskik nie. Dit werk behoorlik, maar die program is verouderd of onjuis. ’n Swak gewete kla ons aan oor dinge wat nie regtig verkeerd is nie. Ons kan nie bekostig om dit teë te gaan nie, want dit sal tot ’n gebrandmerkte gewete lei. Ons wil doen wat reg is! Dit veroorsaak konflik, want ons gewete se definisie van reg en verkeerd is nie God s’n nie.
Wettisisme is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n swak gewete gekweek word. Sommige het grootgeword met die reël dat hulle nie op ’n Son dag mag swem nie. Dis in hulle ingedril dat dit verkeerd is, al het God nie noodwendig so gesê nie. As hulle dan die geleentheid kry om op ’n warm Sondag in die water af te koel, laat hulle swak gewete hulle dit nie toe nie. As hulle ’n medegelowige dit sien doen, neem hulle aanstoot omdat hier die persoon doen wat “verkeerd” is. Meer nog, as hulle oorreed word om ook te swem kla hulle gewete hulle aan van doel bewuste sonde voor God.
In ons Bybelteks vermaan Paulus gelowiges om medegelowiges wat swak gewetens het met liefde en wysheid te behandel. Die Hebreërsskrywer moedig gelowiges met ’n swak gewete aan om in Jesus te groei sodat hulle die lewende God kan dien (9:14). Aangeleerde mensgemaakte wette maak gewetens swak, maar die bloed van Jesus reinig ons daarvan.