Gedagte vir die dag: Klas jy gelowiges?

sonstrale_woud_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. (Efesiërs 2:19-22)

CC Morrison het gesê: “Die kerk is ’n vereniging van sondaars – die enigste vereniging ter wêreld waar lidmaatskap gebaseer word op die enkele feit dat die kandidaat nie sy lidmaatskap kan verdien nie.”

Het jy geweet dat daar nie iets soos ’n goeie en minder goeie Christen bestaan nie? Daar is nie iets soos ’n eerste- en tweedeklas Christen nie! Alle gelowiges is gelyk voor God en ons is veronderstel om saam ’n eenheid te vorm, volgens Paulus is ons immers medeburgers. Elke Christen is lid van die huisgesin van God, ons is met Jesus se bloed aan mekaar verbind. As gesinslede is ons gelyk, broers en susters. Ons is almal lede van een huisgesin en maak saam die geestelike huis uit waarin God woon. Nuwe gelowiges mag nooit as minderwaardig beskou word nie. Hulle is immers ook volle burgers van die koninkryk van God met gelyke status as diegene wat al vir dekades die Here dien.

Paulus beklemtoon in vandag se teksgedeelte hierdie gelykheid wat daar onder Christene moet wees. Hy gaan ook verder en sê ons is die kerk wat op die fondament van die apostels en profete opgerig is. Dit beteken dat die kerk nie op moderne idees gegrond is nie, maar op die geestelike erfenis wat ons uit die Ou en Nuwe Testament ontvang en hierdie erflating het ewigheidswaarde.

Ongelowiges maak deesdae dikwels die stelling dat die kerk uitgedien is. Johan Cilliers gee hierop ’n mooi antwoord, hy sê: “Jesus is die hoof van die kerk. Ons weet nie presies wat in die toekoms gaan gebeur nie, hoe die kerk se toekoms daar uitsien nie. Alles is onseker. Maar dit weet ons: Jesus is die Here van sy kerk. Dit is die bord wat op die kerk vasgespyker moet word – en daar moet bly. Die kerk se toekoms – en daarom ook myne – is in Christus se hande.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.