Kom bid saam vir gesinne

(Foto: John-Mark Smith/Unsplash.)

Die Dameskring, ʼn kultuurorganisasie vir Afrikaanse Christenvroue, het Suid-Afrikaners gevra om Sondag saam te bid vir die land se gesinne.

“Internasionale Gesinsdag word vanjaar op 15 Mei gevier en daarom het ons 17 Mei as ʼn nasionale biddag vir gesinne verklaar. Die Dameskring nooi jou en jou gesin om hande te vat met ons en saam te bid vir gesinne,” het Coreen King, president van die Dameskring, gesê.

Dié organisasie, wat vroue wil inspireer om as leiers en verskilmakers in die Afrikaanse kultuur te leef, glo die gesin is een van die kosbaarste geskenke wat ʼn mens van God kan ontvang. Die vroue wil Suid-Afrikaners aanmoedig om die dag ʼn spesiale dag te maak waar gesinslede kosbare herinneringe saam bou. King meen die tyd van afsondering wat vir die bekamping van die Covid-19-pandemie ingestel is, kan gebruik word om gesinsbande te versterk en opnuut nader aan Jesus te leef.

“Daar is soveel stukkende gesinne in ons land, asook gesinne wat gebuk gaan onder armoede en vrees, en kinders wat tans ʼn gebrek aan ouerliefde ervaar. Ons hoor ook in dié tyd van ʼn toename in sake van molestering. Dit is hoekom ons juis nou moet bid vir heling hier.

“Terselfdertyd moet ons die Here loof vir die gesinne wat so ʼn pragtige getuie van Jesus se liefde is,” het sy bygevoeg.

King glo dat gesonde gesinne die boustene en fondament van die plaaslike samelewing is, en soveel te meer nodig sal wees nadat die Covid-19-pandemie bekamp is.

“Ek bid saam met julle dat elke gesin ʼn banier van Christenskap sal wees. Kom ons bid in die gerief van ons eie huis saam en vir mekaar in hierdie tyd. Dit is slegs deur gebed en vertroue in God dat ons midde-in hierdie stryd staande sal kan bly,” het King bygevoeg.

Sy het die Bybelteks van Miga 6:6-9 in hierdie tyd aan gesinne opgedra:

“Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroudkalwers? Sal die Here ʼn welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? Die stem van die Here roep tot die stad – dit is heilsaam om u Naam te vrees – hoor die roede, en wie dit bestel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.