Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Korintiërs 12:9)
Al weet ek ek moenie, betrap ek my telkens dat ek ’n berg van bekommernisse bymekaarmaak. Hoe kan ons dan ons bekommernisse volkome aan God oorgee?
Heel eerste help dit om positief te wees, om jou oë van die negatiewe weg te draai en dit eerder op die mooi dinge rondom jou te rig. Ek onttrek my van negatiewe gesprekke. Ek dra my bekommernisse aan die Here op. Ek vra Hom om my vrese te verdryf. En dan kom die moeilike deel …
Ek vertrou op die Here dat Hy vir my sal voorsien en vind vrede in hierdie wete. Ek verstaan dat ek tyd verspil deur bekommerd te wees en dat dit nie vir my vrede sal bring nie. Dit sal nie die uitkoms van ’n situasie verander of verbeter nie. Matteus 6:27 sê duidelik vir ons: “Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?”
Wanneer ek besef ek maak my berg bekommernisse bymekaar, herinner ek myself dadelik daaraan dat God in beheer is, ook van my lewe. Moenie die duiwel ’n houvas op jou gee deur jou vrese en bekommernisse nie. Vertrou op die Here.
Vader, dankie dat U my van my vrees en kommer kan verlos. Dankie ook dat ek my vrees en kommer by U kan los en dat U my met vrede sal vul. Amen.
Baie dankie vir vandag se stukkie.
Ek is in ‘n dosisie waar ek ook bekommernisse geberg het alweer… Mens is so geneig om alles self te probeer doen en altyd in beheer te wees. Ek het dit nodig gehad om dit weer te onthou.
Baie dankie Here dat ek al my probleme en bekommernisse met U kan laat met die wete dat U sal voorsien. AMEN!!!!!