Gedagte vir die dag: ’n Kroon van karton

wolke_see_sonondergang_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. (Filippense 4:7)

“Jy mag nie steel nie,” hoor ons in die Tien Gebooie (Eks 20:15). Die landswette en die samelewing en elkeen wat in geregtigheid glo, is dit hiermee eens.

En die meeste van ons hou by hierdie wet. Soms kry ons egter wel die drang om dit wat aan ander behoort vir ons te vat, juis omdat ons onvergenoegd is met wat ons het.

Soos daardie dogtertjie destyds in ons kleuterskool. Elke kind in die kleuterskool het op sy of haar verjaardag ’n kroon op die kop gekry, uit karton gesny en met blinkers versier. Die verjaardagmaatjie het dan heeldag dié kroon gedra.

Teen huistoegaantyd was die verrinneweerde kroon steeds stewig op die kop. Dit was immers die bewys van jou spesiale status op dié dag. Ek onthou mý kroon daardie dag toe ek vyf geword het. Dit was van blou karton en die blinkers het reg rondom geglinster. Ons juffrou het boonop ’n groot “5” aan die voorkant ingekleur en my naam is in kokipen aan die binnekant geskryf.

Ek kan nie meer die besonderhede van die ramp onthou nie, maar ek weet toe my ma my daardie middag kom haal het, was my kroon skoonveld. En ek natuurlik in trane.

Ek onthou hoe ons reguit na die kinderhuis toe gery het en hoe my ma uit die kar geklim en ek deur die kar se ruit gekyk het hoe sy by die gebou met die groot vensters ingaan.

Toe sy terugkom, was my blou kroon in haar hand, gehawender as ooit. Aan die binnekant was die letters wat my naam gespel het darem steeds daar.

Ek onthou hoe ek die kroon sommer net daar in die kar op my kop gesit het, en hoe ek gekyk het na die blinkers wat aan my vingerpunte gekleef en dit laat skitter het.

As ek haar ooit weer sou sien, daardie klein kroondief, sou ek aan haar wou sê: “Weet jy dat die kartonkroon toe in die asblik beland het? Dit het minder as ’n week gehou. “Maar daar is ’n ander soort kroon,” sou ek byvoeg. “Een wat vir ’n baie, baie lang tyd gaan hou. En het jy geweet,” sou ek vra, “dat ’n mens hierdie kroon net met jou geestesoë kan sien? Dis vir elkeen wat glo dat Jesus ons Koning is. Vir elkeen wat glo, gee Jesus ’n verlossingskroon.”

Dis hiérdie kroon wat ons help om ons lewe tevrede te leef. Paulus vertel in Filippense 4:7 daarvan: “En God se vrede sal joune wees – daardie vredige toestand van die siel, verseker van sy verlossing deur Christus. En so, met niks te vrees van God nie en tevrede met jou aardse lot, hoe dit ook al mag lyk, sal jy God se vrede hê. Daardie soort vrede wat alle verstand te bowe gaan, sal vir julle hart en verstand ’n wag wees.” (Vry vertaal uit die Amplified Bible.)

Daardie soort vrede sal soveel vergenoegdheid en tevredenheid bring dat ons nooit weer ander mense se besittings of lot sal begeer nie. Dat ons, inteendeel, eerder ons verlossingskroon aan hulle sal wil gee.

Here, dankie vir my verlossing in Jesus Christus. Vir die vrede en tevredenheid wat dit vir my bring.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

Kornel ·

Meer as net woorde. Soos daar geskryf staan ins die woord. Die Bybel is geskryf en vervul van die Heilige Gees. Dankie vir alles Here. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.