Lindie Strydom: Bid vir alles

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Net mooi die oggend wat my e-posbus weer kreun van mense se desperaatheid en ek voel ek dra so swaar aan elkeen se verwagting dat ek as mens tog net op ʼn manier moet help, stap ek in by Sandra en Filicia van El Shalem in Centurion, ʼn sentrum wat ʼn veilige en geborge omgewing skep vir kinders en jong mense met gestremdhede en/of spesiale leerbehoeftes. Ek luister hoe hulle storie na storie getuig van God wat vir hulle voorsien en God van wie hulle afhanklik is in alles.

Die een dag kom Sarah uit die kombuis: “Daar is vandag niks vir die kinders om te eet nie.” Filicia sê vir Sarah: “Sien jy hierdie lessenaar waar ek werk? Hier bid ek oor alles – alles in my dagboek en op my rekenaar en alles op my lessenaar of wat ek sal hoor in die stoel hier voor my lessenaar. Die kombuis is jou gebied. Dis waar jy bid. Bid oor die leë yskas. God is die een wat vir ons sorg.” Tienuur daai oggend laai ʼn vrywilliger van Helpende Hand sewe bokse vars piesangs af en Sarah staan verstom.

Die ander keer daag iemand op met ʼn hele klomp spinasie. ʼn Rukkie later nog iemand. Toe die derde persoon spinasie kom aflaai, kyk Sandra en Filicia vir mekaar en sê: “Something’s cooking. Wat wil die Here vir ons sê met hierdie klomp spinasie?” Sandra besluit sy gaan bietjie rondvra om agter die kap van die byl te kom. Sy steek haar kop by een van die klaskamers in en vra vir die kinders: “Weet enige van julle iets van baie spinasie?” ʼn Seun se hand gaan versigtig op: “Ons het gebid vir ʼn trok vol spinasie sodat ons spiere soos Popeye kan groei.”Wel,” sê Sandra, “Jy moet kom kyk. Jou trok vol spinasie het gekom.

God gebruik mense vir die werk wat Hy doen. Hy gebruik dokters, onderwysers en ouers, Hy gebruik sakemanne met groot banksaldo’s en vrywilligers wat piesangs of spinasie gaan aflaai, maar ons vertroue kan nooit in hierdie gewone mense wees wat God deel maak van Sy werk nie, want iewers gaan ek as mens jou teleurstel as ek nie alreeds het nie of iewers gaan jy my kwalik neem omdat ek jou nie gehelp het nie al probeer ek my bes met elke mens en behoefte wat my pad kruis.

Mag ons leer om soos Filicia en Sandra oor alles te bid, om God te vertrou nog voor ons iets vra en Hom te dank nog voor ons bekommer. Mag ons Hom as goeie Vader en betroubare Voorsiener leer ken en altyd kan sê aan Hom kom toe die eer, want dit is Hy wat vir ons sorg in alles.

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Rubrieke, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charlene ·

Baie dankie vir hierdie pragtige boodskap Lindie. Jy is ‘n groot inspirasie en mentor vir baie!

Adele ·

Wow! So inspirerend. Hoe GROOT is ons God net nie!! Alle lof en eer aan HOM!!

Lukie Carelsen ·

Pragtige getuienis vd kind wat se gebed oor die spinasietrok wat verhoor is!
Het my laat terugdink aan 1991 toe my vrou Brenda haar eerste comrades aangedurf het. Sy het verskriklik hard vooberei. Elke wedloop voor die comrades het Brenda gehardloop om te kwalifiseer. So het ons dan week na week, van dorp na dorp gereis en probeer kwalifiseer. Dit was vir my pynlik om te sien hoe hard Brenda probeer en dan nie die tyd haal nie! Daar was nog net een wedstryd oor en sowaar sy het dit met sekondes gemaak en dus gekwalifiseer! Ons is op pad comrades toe saam met ons seuntjie Luke, wat toe 6 jaar oud was. Die aand voor die comrades het hy gebid en vir Jesus 2 dinge gevra: datvsy ma sy pa moet wen, en dat sy ‘n “trophy” sal wen! Ek moet sê ek was heel skepties want sien ek het al ‘n silwer medalje met die comrades verower. En ‘n “trophy”? Onmoontlik. Wel ons het die volgende oggend weggespring en Brenda het verskriklik gesukkel. Ons was HEEL agter en na ‘n ruk het sy al begin blaas. Om ‘n lang storie kort te knip. Ek het net voor Coweys Hill my hamstring beseer en moes onttrek! Brenda het sekondes voor die “skoot” klaargemaak en ons klub se “trophy” gewen, ‘n volstruiseier met haar naam op en “LANGSTE GEBROEI OP DIE COMRADES” – trofee vir die atleet wat laaste in ons klub klaarmaak! God beantwoord inderdaad gebede!

Wouter Snyman ·

Geloof en bid wood minders! Dankie Lindie, inspirasie vir die week…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.